Central SA
Eunice neem nuwe toneelstuk Loganfees toe─── ELSABÉ DE JAGER 11:40 Tue, 01 Aug 2023

Soms voel dit asof kreatiwiteit beperk word wanneer jy volgens reëls moet skep. Vloeibare en buigbare reëls kan egter selfs gróter vryheid vir die skeppingsproses beteken.
Vanjaar neem die toneelstuk Afspiegeling Hoërskool Eunice se talentvolle akteurs oor die grens na Fraserburg, ’n Karoodorpie in die Noord-Kaap.
Ilne Fourie, oud-Vrystater en skrywer van die teks, gesels vanuit die Kaap oor die goeie tyd wat sy beleef het tydens die skryf van die drama. Sy is opgewonde oor die geleentheid om saam met dr. Niel van Niekerk, departementshoof van drama by Hoërskool Eunice te werk.
Die kreatiewe krane is tans behóórlik oopgedraai met die laaste paar dae se se voorbereiding voordat die toneelgeselskap môre vertrek na die toneelfees wat dié naweek plaasvind.
“Afspiegeling” die Nederlandse woord vir weerkaatsing, handel oor die beeld wat tieners van hulself sien in die spieël. Dit gaan nie net oor die uiterlike nie, maar veral ook oor die beeld wat vanuit die spieël na hulle terugstaar.
Martinette Spoelstra, regisseur van die produksie het groot bewondering vir die twee hoofkarakters, Greta Maschke en Lucy Groenewald se ontluikende talent. Sy beskryf Afspiegeling as ’n aangrypende tragi-komedie wat situasies uitbeeld waarin tieners hulself bevind. Dit is ’n reis na die wisselwerkinge tussen die psigologiese, emosionele en fisieke welstand van die individu.
Lucy Groenewald en Greta Maschke in aksie. Foto verskaf
“Ek stel eintlik al van kleintyd af belang in drama, dis ’n passie vir my,” sê Maschke, ’n Graad 11-leerling van Eunice. Vir haar, wat die rol van Jess in Afspiegeling vertolk, is dit ’n kosbare en natuurlike geleentheid om saam met haar boesemvriendin sedert laerskooldae, Lucy, te kan optree. Die stuk handel juis ook oor die invloed wat jong vriendinne op mekaar se lewens het.
Die twee aktrises neem Donderdagaand aan die Loganfees deel.
Groenewald, verlede jaar se nasionale wenner van ATKV Digitoneel het reeds in Graad 3 aan produksies begin deelneem.
Sy was aanvanklik ’n baie skaam kind en het kort nadat sy op haar ma se aandrang toegetree het tot toneel geweet sy het haar passie in die lewe gevind. Sy vertolk die rol van Dela.
Die storie vertel van jong tieners se invloed op mekaar. Foto verskaf
Die twee jong aktrises is opgewonde oor die besige tyd wat voorlê. Hulle kan nie wag om die koue te trotseer en die gasvryheid van Fraserburg te geniet nie. Volgende week, terug van die Karoo, lê ATKV Tienertoneel vir hulle voor. Maar soos beide sê, hierdie is slegs die begin van ’n toekoms in die toneelwêreld wat hulle beplan om hul loopbane te maak.