Central SA
Diamantveld skitter met nuwe gimnasium─── ELSABÉ DE JAGER 16:00 Tue, 01 Aug 2023

Om toegerus te wees met die soort gimnasiumapparate wat ook deur die Springbokke gebruik word is ’n trotse gevoel vir enige skool.
Die nuwe gimnasium wat vandag by die Hoërskool Diamantveld in Kimberley ingewy word, beskik oor toerusting wat elke sportsoort se bewegings op die veld simuleer en sodoende die beste vlak van kondisionering waarborg.
Janco Steenkamp, bemarkingsbestuurder van die skool, sê One More Fitness is genader om die gimnasium vir hulle in te rig. Hierdie fasiliteit beskik oor sportspesifieke toerusting wat die heel beste in elke atleet, in alle sportkodes, na vore kan bring. Tot 35 leerders kan saam geakkommodeer word tydens ’n oefensessie. Gewigte wat die skaal op drie ton laat trek, is daar tot almal se beskikking.
Die beste in elke atleet word hier na vore gebring
Die motivering wat uit hierdie aanwins vir die skool spruit, lei ook tot die uitbreiding van die ander sportsoorte wat deel uitmaak van Diamantveld se sportprogram. Die netbalbaan spog binnekort met splinternuwe ligte wat gereed sal wees vir die aanbieding van die ABSA Wildeklawertoernooi. Die opgradering van die sportvelde se hoofpawiljoen begin eersdaags.
Gewigte laat die skaal in totaal op 3 ton trek.
Steenkamp sê die skool sien ook uit na ’n kriekettoernooi wat eersdaags by hulle plaasvind. Dié geleentheid sal die grootste skole van Bloemfontein, die Wes-Kaap en Noordwes insluit.