On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Verkeerdevlei: VF Plus meen polisiegedrag was onaanvaarbaar

───   08:49 Wed, 02 Aug 2023

Verkeerdevlei: VF Plus meen polisiegedrag was onaanvaarbaar  | News Article

Die polisie se buitensporige misbruik van mag om drie Vrystaatse boere in hegtenis te neem, is volgens dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, onaanvaarbaar en die party gaan aandring op antwoorde oor die voorval.

Luidens ’n Netwerk24-berig, “Woede oor klopjag…”, het sowat 30 lede van die polisie en die Valke Dinsdagoggend in 13 voertuie ’n klopjag uitgevoer op die plaas van twee susters wat in hegtenis geneem is. Hulle boer in die Verkeerdevlei-distrik by Theunissen.

Vroue in koue sonder warm klere in vangwa aangehou

Luidens die berig en inligting van die boere se regsverteenwoordiger, Jaco Dempsey, is die klopjag sonder ’n lasbrief uitgevoer en die vroue is ure lank in snerpende koue sonder warm klere agter in ’n vangwa aangehou. Hulle het vandag in die landdroshof op Theunissen verskyn op aanklagte van poging tot moord, ontvoering, aanranding en regsverydeling.

Dit het gevolg op ’n poging van die vroue om ’n siviele inhegtenisneming uit te voer op ’n man en sy twee tienerseuns wat hulle van veediefstal verdink het. Die man het gevlug en twee skote is geskiet. Die man is nie getref nie.

Buitensporige magsvertoon onaanvaarbaar

Dit is algemeen bekend dat veediefstal ’n reuseprobleem in die omgewing is. Die betrokke boere het onlangs groot verliese met die diefstal van skape gelei. Die VF Plus sal hom nie uitlaat oor die meriete van die saak nie, maar vind die buitensporige magsvertoon onaanvaarbaar. Dit is tekenend van ’n polisiestaat.

Dit laat ook die vraag ontstaan waarom daar nie tydens plaasaanvalle met só ’n groot mag op die aanvallers jag gemaak word nie. In baie gevalle moet die boere self optree ná ’n plaasaanval of -moord om die aanvallers te volg en in hegtenis te neem selfs voordat die polisie opdaag.

Hoof van Valke gevra om te verduidelik

Die VF Plus sal Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, vra om te verduidelik waarom die Valke gebruik word om boere in hegtenis te neem en waarom hulle in die betrokke voorval aangewend is. Die party sal ook aan Bheki Cele, minister van polisie, vra om inligting te verskaf oor die optrede en suksesse van die Verkeerdevlei-polisie rakende veediefstal.

Die aangeklaagdes is aangeraai om die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat te vra om die aangeleentheid te ondersoek en om siviele eise teen die polisie in te stel. Hierdie voorval herinner aan die bloulig-saak waar die polisie ’n skrikbewind voer teen die gewone publiek terwyl misdadigers en veediewe oënskynlik sonder vrees optree.

Mediaverklaring

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.