Central SA
Polisiebeamptes nie bo reg verhewe, waarsku Vrystaatse Premier─── TSHEHLA KOTELI 09:13 Wed, 02 Aug 2023
In dieselfde asem wat 864 polisierekrute verwelkom is, het Mxolisi Dukwana, premier van die Vrystaat, beamptes gewaarsku dat daar streng teen hulle opgetree sal word as hulle hul aan misdaad skuldig sou maak.
Hy het ook die rekrute bedank dat hulle by die polisie aangesluit het om die mense van die provinsie te beskerm. “Die werwing van polisiebeamptes sal die regering se pogings help om misdaad te bekamp. Ons moet saamstaan agter eerlike polisiebeamptes wat daartoe verbind is om ons mense te dien,” het Dukwana gesê.

Die Vrystaat het gister 864 rekrute verwelkom. Foto: Facebook
“Ons mense het ongelukkig gevangenes in hul eie huise geword weens midaad. Misdadigers het so erg geraak dat hulle nie eens bang is vir die polisie nie.” Die seremonie is ook deur Maqueen Letsoha-Mathae, LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer en Baile Motswenyane, die polisie se provinsiale kommissaris, bygewoon.

Mxolisi Dukwana, premier van die Vrystaat, het die rekrute verwelkom. Foto: Facebook
Intussen het Andrew Whitfield van die DA ’n klag teen die minister van polisie, Bheki Cele, en Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, aanhangig gemaak. Dit hou verband met die polisie se onwettige besit van spioenasietoerusting.
Whitfield sê Cele het toegelaat dat die polisie dit aankoop sonder dat dit aan die vereistes van die Wet op die Regulering van die Onderskepping van Kommunikasie en die Voorsiening van Kommunikasieverwante Inligting (Rica) voldoen het.

Die seremonie is by Bobbiespark gehou. Foto: Facebook
“Die besit van sulke toerusting sonder ’n geldige vrystellingsertifikaat is ’n misdaad en is deur die minister van justisie bevestig. Hierdie oortreding bring privaatheidsregte en Suid-Afrika se oppergesag van die reg in gedrang. Ons eis aanspreeklikheid vir die skending van burgers se privaatheidsregte.”
