On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Bethlehem se vegtertjie word onthou as sonskynkind

───   HEIDRÈ MALGAS 11:31 Wed, 02 Aug 2023

Bethlehem se vegtertjie word onthou as sonskynkind | News Article
Liza Engelbrecht. Foto verskaf

Liza Engelbrecht het altyd gelag, gehuppel, gedans en gesing. Sy was ’n sonskynkind wat enige vertrek opgehelder het. Haar ma beskryf haar as ’n reënboogkind wat geglo het aan feëtjies en eenhorings.

Liza se ma, Janet Engelbrecht, sê haar dogter het ‘n verskriklike sterk persoonlikheid en stem gehad, maar sy was ook baie sag en liefdevol. Sy het graag drukkies gegee en was baie lief vir diere en mense.

Chroniese granulomatose is as eenjarige by die pragtige dogtertjie van Bethlehem gediagnoseer nadat hulle ‘n granuloom (’n tipe gewas) aan haar long gekry het toe sy net nege maande oud was, wat nou haar lewe geëis het.

Liza se ouers is Saterdagoggend na die hospitaal ontbied nadat sy deur die vorige nag gesukkel het om asem te haal.

Janet, haar man, Janet se ma, asook Liza se tweelingsuster, Elyna, was by haar toe sy Saterdag omstreeks 04:50 gesterf het.

“Liza was regtig 'n prinses. Sy het van als gehou wat mooi, pienk, blink en vol strikkies en frilletjies was. Haar gunstelung speelplekke was in haar feëtjietuin by ons huis en dan op die strand tussen die vlak branders. Maar natuurlik nooit alleen nie, sy het altyd haar sussie of 'n maatjie by haar gehad om dit mee te deel,” sê Engelbrecht.

Engelbrecht sê sedert haar diagnose op eenjarige ouderdom was sy op chroniese medikasie vir haar immunstelsel om te voorkom dat sy nie enige ernstige bakteriële of swaminfeksies sou opdoen wat lewensgevaarlik vir haar kon wees nie.

“Sy het elke dag getrou haar medikasie geneem en ons was geseënd dat sy eintlik 'n baie normale en gesonde lewe geleef het daardie vyf jaar. Sy het alles gedoen wat haar sussie gedoen het en het nie 'n bang haar op haar kop gehad nie.”

Ná baie toetse en navorsing, was hulle gelukkig om ’n geskikte anonieme stamselskenker te kry en die stamseloorplanting het in Januarie plaasgevind. Liza moes intensiewe chemoterapie hiervoor ontvang ter voorbereiding van die oorplanting.

“Als het goed verloop en Liza was net 4 weke in isolasie waarna sy ontslaan is uit die hospitaal. Ongelukkig het sy so week ná ontslag komplikasies begin ontwikkel – “graft versus host disease” – wat haar dikderm, lewer, vel, blaas en later ook haar longe verskriklik aangetas het,” vertel Engelbrecht.

Sy sê Liza is weer opgeneem in die hospitaal om hierdie simptome te behandel. Sy het 'n tydperk van vier maande in die hospitaal deurgebring waartydens sy en haar man om die beurt elke dag langs haar bed was en ook by die hospitaal geslaap het.

’n Gedenkdiens word voorlopig vir Vrydag by die Lavender Hill-landgoed buite Bethlehem beplan.

So vyf dae voor haar en haar tweelingsussie, Elyna, se sesde verjaardag is sy weer ontslaan. Sy was steeds baie siek, maar darem nie meer afhanklik van al die binneaarse medikasie van die hospitaal nie.

“Liza se afsterwe raak ons as gesin in absoluut alle aspekte van ons lewens. Ons harte is stukkend en ons sal haar verskriklik en vir altyd mis. Ons koester die ses jaar wat ons saam met haar kon hê. Sy het defnitief ons lewens verryk. Dit was verskriklik om haar so te sien swaarkry die laaste ruk en ons gun nou vir haar die rus en ’n ewige lewe sonder pyn by Jesus se voete,” sê Engelbrecht.

’n Gedenkdiens word voorlopig vir Vrydag by die Lavender Hill-landgoed buite Bethlehem beplan. Dit sal deur ds. Abri Pelser van die Gereformeerde Kerk Bethlehem waargeneem word.

Liza word ook deur haar grootouers, Maryna en Paul Porter van Bethlehem en Bettie Engelbrecht van Krugersdorp, oorleef.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.