Central SA
Skolesport Woensdae begin goed in Noordwes─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:32 Thu, 03 Aug 2023

Skolesport Woensdae is suksesvol in die Ikageng-stadion in Potchefstroom deur Viola Motsumi, Noordwes LUR vir Onderwys, bekend gestel.
Altesaam 950 leerders het Woensdag van verskillende skole regoor die provinsie byeengekom om aan vyf sportsoorte deel te neem, naamlik sokker, netbal, skaak, vlugbal en basketbal. Motsumi het gesê sy is tevrede met die bekendstelling en dat dit baie noodsaaklik is om leerders se akademiese moraal só ’n hupstoot te gee, te midde van hul entoesiasme en opgewondenheid op die dag.
Sy het verduidelik hoe belangrik die rolle is van ’n skoolbeheerliggaam (SBL), onderwysers en ander personeel om Sport Woensdae 'n sukses te maak.
Onderwys LUR Viola Motsumi wys haar sokkervaardighede tydens die bekendstelling van Skolesport Woensdae by die Ikageng-stadion in Potchefstroom. Foto verskaf
“Die skoolbeheerliggame bestuur ons skole. Sonder hul ondersteuning, gaan ons as die Departement van Onderwys beslis misluk in terme van ons doelwitte. Ons het mekaar nodig. So, vir ons om ons doelwit as Onderwys te bereik, het ons die ouers én opvoeders nodig.
“Daarom sal ek vergader met elke voorsitter, sekretaris-generaal en tesourier van SBLe regoor die provinsie. Een van die besprekingspunte sal skolesport wees."
Die departement sal verseker dat skole die voldoende sportinfrastruktuur het om sport in die provinsie 'n hupstoot te gee aangesien hulle veelsydige leerders in en buite die klaskamer wil oplewer. Motsumi het tydens haar begrotingsrede genoem dat navorsing getoon het dat sport in skole leerders help om fiks te bly en terselfdertyd lei dit tot 'n gesonde verstand, wat noodsaaklik is vir leer.
Sy het ook ouers versoek om leerders aan te moedig om aan sportaktiwiteite deel te neem om uitdagings soos dwelmmisbruik en ander sosiale uitdagings soos afknouery, tienerswangerskappe en misdaad te vermy. Die LUR het onlangs ’n skool besoek wat weens bende-aktiwiteite gesluit is.
“Ons beoog om 'n dwelmvrye samelewing daar te stel en leerlingswangerskappe en afwesigheid te verminder. Ons toekomstige, bekende sportsterre sal uit hierdie briljante idee voortspruit,” het Motsumi gesê.
Al vier distrikte het vriendskaplike wedstryde gespeel met uitstekende oorwinnings. Foto verskaf
Intussen het die provinsiale onderwyswoordvoerder, Mphata Molokwane, gesê skole sal elke Woensdag uiteindelik aan 16 sportsoorte sal kan deelneem, wat ook later hokkie, krieket en rugby sal insluit.
Tydens die bekendstelling gister het spanne van al vier distrikte vriendskaplike wedstryde gespeel met uitstekende oorwinnings, soos die Bojanala-distrik wat die basketbaltrofee gewen het, die Dr. Kenneth Kaunda-distrik wat in netbal en sokker gewen het, die Ngaka Modiri Molema-distrik wat die skaak gewen het en die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distrik wat die vlugbal gewen het.
OFM Nuus