Central SA
Mangaung stel inwoners in kennis van beplande wateronderbrekings – FOTO'S─── KEKELETSO MOSEBETSI 08:54 Mon, 07 Aug 2023
Inwoners van Mangaung Metro Munisipaliteit is versoek om die nodige reëlings te tref as gevolg van beplande waterbesnoeiings.
Metro-woordvoerder, Qondile Khedama, het gesê wateronderbrekings word beplan omdat instandhouding deur die stad se watervoorsiener, Bloemwater, by die Modderrivier-streek gedoen gaan word. Inwoners van Thaba Nchu en Botshabelo sal Maandag (7/8) en Dinsdag (8/8) deur die onderbrekings geraak word.
Khedama het gesê hierdie operasionele program vir die instandhouding van die reservoirs is belangrik aangesien dit sal verseker dat die gemeenskap van Mangaung voorsien word van hoë gehalte water en water wat aan gehaltestandaarde vir menslike gebruik voldoen. Daar sal totale onderbrekings of beperkte watertoevoer wees tydens die instandhouding.
Die metro het verskoning gevra vir die ongerief.
Mangaung het onlangs kwessies van vandalisme en kabeldiefstal in die gesig gestaar wat sommige watersuiweringsaanlegte in ’n haglike toestand gelaat het. Khedama het gesê die metro sal multimiljoentoelae, wat van tesourie ontvang is, gebruik om bedrywighede by afvalbehandelingswaterwerke regoor die metro te verbeter.

Mangaung Metro se watersuiweringsaanleg word opgeknap. Foto: Facebook/Mangaung Metro
“Vir die afgelope ruk is verskeie waterinfrastruktuurfasiliteite in verskeie dele van Mangaung erg gevandaliseer, wat negatiewe implikasies op watergehalte gehad het,” het hy bygevoeg.
Khedama het verder gesê die projek het reeds in April 2023 begin en sal in April 2025 tot ’n einde kom.
“Van sekuriteitsmaatreëls tot toerusting, wat pompe, kleppe, ratte, waaierbande en laboratorium-instrumente insluit – die opknapping sal verseker dat alle belangrike dele versorg word.”
OFM Nuus
