Central SA
Orania vier Afrikaans met taalweek─── ELSABÉ DE JAGER 12:16 Mon, 07 Aug 2023
Die skatte wat poësie, drama, lirieke en sommer net gesels in Afrikaans oplewer, bied ons baie om op trots te wees.
Met die oog op Taaldag op 14 Augustus bied die Orania Kunsteraad (OKeR) van 14 tot 19 Augustus ’n taalweek aan. Die program is omvattend en voorspel ’n ware fees vir enige Afrikaanssprekende.
Anje Boshoff, OKeR-bestuurslid, sê hoewel hulle as hooforganiseerder optree, is dit ook belangrik dat die inwoners van Orania met eie inisiatief en idees vir dié week vorendag kom.

Cornelia Holm stal haar beeldhoukuns uit.
Vanjaar se tema sluit aan by die 150ste verjaardagviering van C.J. Langenhoven. Die bekende volksbesitspreuke van dié skrywer sal oral in die dorp op skole se kennisgewingsborde en teen ondernemings se mure te sien wees.
Yolandi Roets, uitvoerende hoof van OKeR, sê die vyf boekbekendstellings is beslis ’n hoogtepunt van die week. Drie van die skrywers is Oraniërs. Erflig, geskryf deur dr. Wikus Buys, word op die eerste dag uitgereik. Dié digbundel, wat handel oor die gedagteworsteling oor die verhuising van Gauteng na Orania, word deur OKeR uitgegee.

Toneel maak ’n groot deel uit van die taalweek.
’n Geleentheid wat reeds wye belangstelling lok, is die dinee wat die skilder en beeldhouer Cornelia Holm op haar 80ste verjaardag tydens die taalweek aanbied. Rondom die feestafel sal sy haar eie, selfgeïllustreerde digbundel met voorlesings deur plaaslike stemkunstenaars bekendstel.
’n Volksliedjieaand, gemeenskapskonsert, poppekas, kunsmark en sang van Laurinda Hofmeyr sorg vir nog vermaak deur die week.
