Central SA
Voormalige OFM-omroeper maak sy verskyning in 'Hartklop'─── HEIDRÈ MALGAS 14:06 Mon, 07 Aug 2023

’n Gewese omroeper van OFM, die klank van jou lewe, Stefan Lotter, maak sy verskyning in die nuwe mediese drama op kykNET, “Hartklop”.
Lotter sê toe die geleentheid hom voordoen, het hy sonder twyfel ja geskree. ‘n kykNet-produksie met puik skrywers en akteurs is nie ‘n geleentheid waaroor ’n mens twyfel nie. “Ek het telke male by OFM gevoel asof ‘omroeper’ bloot ’n rol is wat ek vertolk; dus was ek elke keer ‘n akteur sodra die mikrofoon aangegaan het.”
Hartklop is ‘n drama wat afspeel in ‘n staatshospitaal en bied ook ’n blik op die dokters en mediese personeel se persoonlike lewe. Kykers kan verseker wees dat elke episode hulle sal laat uitsien na die volgende een.
“Gelukkig hoef ek nie die vreeslike terminologie te leer soos die dokters en verpleegsters nie, maar ek moes verstaan wat die mediese terme vir my karakter beteken en wat presies fout is met my om die akkuraatste vertolking te gee. Elke pasiënt se geval is gegrond op werklike gevalle,” sê Lotter.
“Die eerste keer op die stel was ek vreeslik bang. Dit was ‘n groot uitdaging, maar ek het so baie geleer, en al is my rol klein, het dit my die moed en hoop gegee om my drome volstoom na te jaag. Eendag het ek ook ’n hoofrol – ek werk hard daarvoor.”
Stefan Lotter, gewese OFM-omroeper. Foto: Get It Bloemfontein
Hy meen Hartklop is die eerste in sy soort in Suid Afrika. Dit bied Afrikaanssprekende mense die geleentheid om die werklikheid van ’n Suid-Afrikaanse hospitaal te ervaar, in ons taal. Dis ook ’n belangrike herinnering dat dokters en mediese personeel hul eie lewe met hul eie uitdagings het. ’n Mens vergeet soms en verwar hulle met helde.
Een van sy onvergeetlike oomblikke was toe hy besef hy deel ‘n wagkamer met van die grootste name in Suid Afrikaanse televisie. “Ek was ’n hele paar uur sprakeloos toe ek sien Leandi du Randt, Oros Mampofu en Dawid Louw gaan my dokters wees.
“Gevolglik was ek nog meer stomgeslaan toe ek in dieselfde kamer as Dawid Minnaar voorberei vir ’n toneel waar hy op my opereer.
“Ek is dankbaar dat ek dié oomblik kan deel in die publiek en ek weet sommer dat ons nog vir baie jare gaan terugkyk na die oomblik – ’n merkwaardige deurbraak in my lewe.”
Lotter vertolk in episode 5 die rol van PJ, ’n matriekseun, wie se familie hulle in ’n baie ongemaklike posisie bevind.