Central SA
Motorfietsongeluk: Franco Birch se begrafnisreëlings bekend─── 10:55 Tue, 08 Aug 2023
Die jong man wat Vrydag met sy motorfiets by die Loch Logan Waterfront in Bloemfontein in ’n botsing met ’n motor betrokke was, se begrafnis sal Saterdag gehou word.
Reynhardt Birch (36), wyle Franco Birch (26) se enigste broer, sê die diens gaan om 10:00 vanuit die Biker’s Church plaasvind. Hy sê Franco se dood is baie swaar en ’n groot skok vir die gesin en almal wat hom geken het. “Daar is nie ’n mens wat iets sleg of lelik van my broer kan sê nie. Hy was die sout van die aarde. Hy was goed vir almal.”

Franco Birch was ’n lid van Cyclone MCC. Foto verskaf
Franco, ’n elektrisiën, se dogter, Franke, is in Februarie gebore. Hy het drie dae voor die ongeluk nog ’n tatoeëermerk van ’n roos vir haar gekry. “Dit is een van daardie swaar dinge; sy gaan nou nooit haar pa ken nie,” sê Reynhardt.
Hy sê ’n mens dink nooit so iets sal met jou gesin gebeur nie. Dan gebeur dit en ’n mens se hele lewe verander in ’n oogwink. Hulle is nie seker waarheen hy op pad was of wat gebeur het nie.
Jason Prinsloo, president van die Cyclone MCC-motorfietsklub, waarvan Franco ’n lid was, sê Franco se plek is leeg en sy stem is stil.

Franco Birch. Foto verskaf
“Ons gaan hom onvoorwaardelik mis. Hy het soveel mense aangeraak met sy borrelende persoonlikheid, goeie hart en warm glimlag,” sê Prinsloo.
Franco en sy pa, Leon, het saam die onderneming Electro Birch bedryf. Die familie wil almal bedank wat hulle ondersteun en gehelp het op die ongelukstoneel.
OFM Nuus/Karen van der Berg
