Central SA
Verkeerdevlei: DA, VF Plus vra ondersoek na polisie se magsvertoon─── 15:04 Tue, 08 Aug 2023
Politieke partye en burgerregteorganisasies vra ’n ondersoek na die polisie se oënskynlike magsvertoon nadat 30 lede van die Verkeerdevlei-polisie opgedaag het om twee vroueboere, wat skaapdiewe op hul plaas wou vastrek, in hegtenis te neem.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n regsverteenwoordiger aangestel om die saak teen die twee vroueboere en ’n boer van ’n buurplaas, wat ook in hegtenis geneem is, noukeurig te volg. “Die manier waarop hierdie boere in hegtenis geneem is, is baie verdag. Dit lyk na ’n intimidasietaktiek deur die polisie,“ sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
‘Tekenend van ’n polisiestaat’
Die VF Plus het die voorval as “tekenend van ’n polisiestaat” beskryf en onderneem om die Bheki Cele, minister van polisie, vir inligting oor die polisie se optrede te vra.

Ondersteuners van die drie aangeklaagdes en die slagoffers voor die landdroshof in Brandfort. Foto: Skermgreep/Willem Petzer-Facebookbladsy
Die DA in die Vrystaat het aan die Vrystaatse hoof van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) geskryf en versoek dat ondersoek ingestel word na beweerde polisiewangedrag en -brutaliteit, intimidasie en misbruik van hulpbronne.
“Die polisie noem dikwels 'n gebrek aan personeel en voertuie as 'n rede waarom hulle nie landelike misdaad kan beveg nie. Die skielike verskyning van groot getalle polisievoertuie en personeel om twee vroue in hegtenis te neem laat die vraag ontstaan of die polisie instrumente geword het van die EFF se rasseveldtog teen wit boere,” sê Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaat.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, vra waarom die polisie nie tydens plaasaanvalle “met so ’n groot mag op die aanvallers jag maak nie”.
‘Dien siviele klag teen polisie in’
“In baie gevalle moet die boere self ná ’n plaasaanval of plaasmoord optree om die aanvallers te volg en in hegtenis te neem, selfs voordat die polisie opdaag.” Hy het die drie boere aangeraai om siviele eise teen die polisie in te stel.
Die vroueboere, die susters Janné (28) en Lize-Mari Smith (35), asook Hendrik Steyn (56) is op 2 Augustus in die landdroshof op Brandfort op borgtog van R2 000 elk vrygelaat nadat hulle op 31 Julie in hegtenis geneem is vir poging tot moord, ontvoering, aanranding en regsverydeling.
Dit spruit uit ’n voorval waarin die vroue probeer het om ’n man en twee tienerseuns wat hulle van veediefstal verdink het, in hegtenis te neem. Die man het glo gevlug en twee skote is na bewering afgevuur. Die man is nie getref nie.

