Central SA
Colesberg-egpaar gevonnis nadat hulle miljoene van munisipaliteit steel─── ZENANDE MPAME 14:50 Thu, 10 Aug 2023
’n Voormalige werknemer van die Umsobomvu-munisipaliteit is tot ses jaar tronkstraf gevonnis omdat hy sy werkgewer uit R2,5 miljoen bedrieg het. Sy vrou is vir drie jaar onder korrektiewe toesig geplaas.
Sivuyile Stali (40) is Dinsdag (8/8) in die streekhof in Colesberg skuldig bevind aan 262 aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery. Hy het as hoofklerk in beheer van salarisse gewerk en die gesteelde geld na sy 31-jarige vrou, Vivian, se persoonlike rekeninge oorgeplaas. Sy sal ook 16 uur per maand gemeenskapdiens moet doen.
Die nasionale direkteur van openbare vervolging se batebeslagleggingseenheid en die Valke kon R364 753 van die geld terugkry. Wynand Boshoff, VF Plus-leier in die Noord-Kaap, sê daar is baie vrae oor hoe die hoofklerk dit kon regkry. “Die feit dat hulle gevang en gearresteer is moet ’n waarskuwing wees vir enigiemand met soortgelyke planne."
“Die DA in die provinsie staan vas in sy besluit dat geen korrupsie in enige munisipaliteit toegelaat kan word nie,” sê DA-raadslid Marlon Douw.
OFM Nuus
