Click on the warning image to view this post
Central SA
Eienaar mishandel glo sy hond nadat dié sy braaivleis vreet─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:04 Mon, 14 Aug 2023
Die eienaar van ’n Amerikaanse veghond in Thaba Nchu het na bewering sy hond mishandel nadat sy ’n stukkie braaivleis geëet het.
Werner Botha, Bloemfonteinse DBV-inspekteur, sê hulle het ’n oproep ontvang kort nadat die voorval plaasgevind het. Na wat verneem word, het die eienaar sy pit bull geslaan en gesny nadat die hond ’n stukkie vleis van die braairooster gevreet het. Foto’s van ’n swart-en-wit teef met twee groot snywonde oor haar kop is na die DBV gestuur.
Botha het gesê nadat hy die foto’s gesien het, het die Bloemfonteinse DBV besef die wond sal onmiddellike chirurgiese en mediese ingryping vereis. Die bekommerde DBV-beamptes het na Thaba Nchu gegaan om die hond in nood by te staan.
Daar gekom, het die omvang van die situasie duidelik geword. Die hond het ernstige beserings aan haar kop opgedoen met die wonde wat die vel en spierweefsel beskadig het.
’n Saak van dieremishandeling is geregistreer. Foto verskaf
Botha sê die eienaar is oor die voorval gekonfronteer en hy het teenoor DBV-beamptes erken hy was so kwaad dat hy die hond met ’n bottel geslaan het totdat dit gebreek het.
“Die wonde op die pit bull stem ooreen met sy storie. Die krag wat gebruik moes gewees het om ’n bottel oor ’n hond se kop te breek, is aansienlik. Die lewensomstandighede van die hond was skokkend. Sy is in ’n klein area aangehou wat oortrek was met ou uriene en ontlasting,” het hy bygevoeg.
’n Saak van dieremishandeling is geregistreer.

Die hond is in ’n klein area aangehou wat oortrek was met ou uriene en ontlasting. Foto verskaf
"Ons as 'n samelewing moet ’n eerlike gesprek met mekaar hê oor honde-eienaarskap. ONs verkwalik maklik die slagoffer of (honde)ras, maar versuim om onsself te herinner dat die verantwoordelikheid van troeteldiereienaarskap en veeteelt uitsluitlik op die troeteldiereienaar berus.
“Die blatante arrogansie van hierdie individu om te voel dat dit geregverdig is om ’n hond so ernstig te straf oor ’n stukkie vleis, spreek boekdele van sy morele kompas en vermoë om ’n lid van dié (honde)ras aan te hou.”
Botha sê hulle hoop om ’n kriminele skuldigbevinding teen die eienaar te verseker en hom ongeskik te verklaar om Amerikaanse veghonder of enige ander dier aan te hou.
OFM Nuus
