On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

5 in Pattinson-moordsaak laat vaar borgtogaansoek

───   MORNÉ VAN ROOYEN 13:36 Mon, 14 Aug 2023

5 in Pattinson-moordsaak laat vaar borgtogaansoek | News Article
Mike Pattinson was ’n gewaardeerde lid van die Harrismithse gemeenskap. Foto verskaf

Vyf van die sewe verdagtes in die moord op Mike Pattinson van Harrismith het Maandag (14/8) afstand gedoen van hul reg tot borgtog.

Die sesde verdagte, ’n vrou, is steeds in die hospitaal, terwyl die sewende borgtog van R3 000 gekry het met streng voorwaardes. Hy kan nie met die ontvoering en moord verbind word nie.

Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, het vanoggend se hofverrigtinge bygewoon. Hy sê die saak is tot 13 September vir verdere ondersoek uitgestel, waarna dit waarskynlik na ’n ander hof oorgeplaas sal word. 

Mike Pattinson (67) is omstreeks 22 Julie op sy plaas in die Sterkfonteindam-omgewing by Harrismith vermoor, of elders om die lewe gebring nadat hy in sy eie voertuig ontvoer is.

Vyf verdagtes het die eerste keer vyf dae later in die Tseseng-landdroshof verskyn in verband met Pattinson se ontvoering en moord. Twee is in die hospitaal behandel vir beserings wat hulle opgedoen het tydens hul inhegtenisneming. Een van hulle is intussen ontslaan.

Pattinson is op Maandag 24 Julie as vermis aangemeld nadat hy nie die oggend by die werk opgedaag het nie. Hy was die hoof- finanisiële beampte by die private skool Harriston op Harrismith wat hy in 1997 help stig het.

Hy het alleen gewoon op die plaas Summerslie, waar ’n huiswerker hom laatmiddag op  22 Julie die laaste keer gesien het. 

Sy voertuig is twee dae later buite ’n huis in Tseseng opgespoor. Nadat verskeie polisie-eenhede daarheen opgeruk het, het sewe verdagtes, onder wie twee vroue, te voet gevlug. Die polisie het hulle agternagesit. 

Die polisie het in die huis op Pattinson se liggaam afgekom. Twee skootrekenaars en ’n kamera is gevind wat vermoedelik aan hom behoort het.

Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier. Foto: Verskaf

Van Niekerk sê dit is goed dat die vyf nie vrygelaat word op borgtog nie. “Dit is vir die Vryheidsfront Plus ’n groot bron van kommer dat baie plaasaanvalle uitgevoer word deur persone wat verhoorafwagtend is. met ander woorde op borgtog vrygelaat is, of persone wat reeds ’n misdaadrekord het, wat op parool vrygelaat is.”

Hy sê dis daarom lewensbelangrik om toe te sien dat die strengste moontlik maatreëls getref word dat sulke verdagtes nie suksesvol aansoek om borgtog kan doen nie. “Daarom is dit belangrik dat die staat hierdie aansoeke moet teenstaan en dat die publiek ook hulle belangstelling in hierdie sake moet toon.”

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.