Central SA
Hertzogville in die Vrystaat kry uiteindelik water ná 2 maande─── HEIDRÈ MALGAS 14:04 Wed, 16 Aug 2023
Hertzogville het wéér water nadat die waterpompe vir twee maande buite werking was.
Johan Steenkamp, DA-raadslid van die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit, sê die stukkende pompe is net een van die redes waarom Hertzogville so lank sonder water was. Hy sê drie dae nadat die pompe herstel is, is die kragtoevoer deur Eskom weens wanbetaling afgesny. Dit het tot frustrasie gelei omdat Eskom ’n reusebedrag geëis het voordat hulle dit sou herstel.
"Die distriksadministrasie het geen planne gehad nie. Ons moes gebruik maak van plaaslike inwoners se boorgate om water te voorsien, maar die inwoners was nie baie gretig om die administrasie te help nie."
Daar was slegs een watertenkwa om die hele Hertzogville van water te voorsien. Hy sê daar is stappe wat hulle kon gedoen het, maar die huidige administrasie het nie die vermoë om dit te doen nie.

Daar was slegs een watertenkwa om die hele Hertzogville van water te voorsien. Foto verskaf
Steenkamp sê dit is nie die eerste keer dat Hertzogville vir maande sonder water is nie. ’n Vorige keer was die dorp drie maande sonder water. “Daar was geen kommunikasie met die gemeenskap oor die watersituasie nie. Selfs ons as raadslede is in die duister gelaat oor die planne om die water te herstel of wat die probleem is.”
Hy sê Hertzogville se water is altyd redelik skoon en suiwer en geen inwoner het al gekla oor water wat nie gedrink of gebruik kan word nie.
OFM Nuus
