Central SA
Kovsie Sentraal Tennistoernooi weer aangebied met topspelers─── HEIDRÈ MALGAS 08:00 Thu, 17 Aug 2023
Die jaarlikse Kovsie Sentraal-tennistoernooi in Bloemfontein vind weer plaas en sal Donderdag (24/8) begin.
Byron Wegger, hoofafrigter by Sentraal en toernooidirekteur, sê verlede jaar was 'n groot sukses. Al die skole van verlede jaar gaan weer deelneem.
"Ons doel met die skepping van hierdie toernooi is om skole binne en buite Bloemfontein die geleentheid te bied om teen mekaar te speel, wanneer dit anders nie moontlik sou wees nie." Die spanne speel ’n rondomtalie teen mekaar. Donderdag is daar een rondte, Vrydag en Saterdag twee rondtes, waar die seunspan en meisiespan met die hoogste punte as die wenners gekroon word.

Die spanne het verlede week in die ‘Sun City Vacation Club’-toernooi gespeel. Die seuns het gewen en die meisies was vierde. Foto: Verskaf
Verlede jaar se wenners was van Voortrekker (meisies) en Pearson (seuns).
“Soos die skedule aandui, speel almal by Sentraal en Grey se bane. Die interessante deel van die toernooi is dat ons ’n 'fast 4 scoring' metode gebruik, wat dinge vinnig hou. Spanne speel die beste uit drie stelle, maar die eerste wat vier wedstryde wen, wen – in teenstelling met die gewone ses wedstryde,” sê hy.
Spelers mag van die baan afstap om hul medespelers te ondersteun en te help. Dit is die eerste toernooi waar spelers "coaching" gebruik in plaas van afrigters. Dit leer die spelers om as 'n afrigter te dink en die wedstryd anders te beskou.
Die toernooi fokus op die pret van spangees en betrokkenheid van medespelers. Foto: Verskaf
Hy sê daar is spelers wat beslis naam maak, soos Sentraal se nommer 1, Erick Heyns, wat onder die tien beste seuns onder 16 in die land is. Spanne soos Pearson se seuns en Clarendon se meisies word as gunstelinge beskou om die beker te wen.
"Ons toernooi fokus baie op die pret van spangees en betrokkenheid van medespelers in elke wedstryd." sê hy. "Kovsies Sport is ons hoofborg en hulle beskou die toernooi as 'n uitstekende platform om nuwe spelers by hul tennis in te sluit. Dit is ook interessant omdat hulle tennisprogram reeds 10 jaar ongestoord voortduur in die USSA-universiteite," sê Wegger.
Toegang is gratis en dit val toevallig saam met Sentraal se Reünienaweek, so dit sal dalk ’n paar oud-Tralies lok.
Wegger het reeds verskeie toptien-spelers in Suid Afrika afgerig en hy het ‘n unieke YouTube-kanaal in Bloemfontein oor tennis begin.
