On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Ons kinders kan nie lees nie

───   11:39 Thu, 17 Aug 2023

Ons kinders kan nie lees nie | News Article
Photo: iStock

Die vermoë om te kan lees is nie net ’n vaardigheid nie. Dit is ’n poort tot kennis, kritiese denke en bemagtiging. Dit is daarom kommerwekkend dat ’n onlangse studie toon dat Suid-Afrikaanse kinders se leesvaardighede baie swak is.

’n Vyfjaarlikse peiling oor die vordering in internasionale leesvaardighede (Pirls) het onlangs die skokkende statistieke getoon dat agt uit tien gr.4-leerlinge nie met begrip kan lees nie.

OFM het by Lutje van Pletzen, eienaar van een van die Tina Cowley-leessentrums in Bloemfontein, gaan uitvind hoe sy dit ervaar en of ons kinders se leesvermoëns gevaarligte laat flikker. Sy is al langer as 12 jaar betrokke daarby om kinders se leesvaardighede te verbeter.

Lutje van Pletzen, eienaar van Tina Cowley-leessentrums in Bloemfontein. Foto: Verskaf

Die prentjie is wel donker

Van Pletzen sê dit is ongelukkig waar dat kinders se leesvermoëns baie verswak het. Ongelukkig daarmee saam, is hul taalvaardigheid en basiese perseptuele vaardighede ook swakker. Laasgenoemde vorm die basis van lees.

“ ’n Voorbeeld hiervan is kinders se ouditiewe geheue. Ons gee byvoorbeeld vir kinders take om te doen. Dan moet hulle dit in daardie volgorde voltooi.” Sy sê in die verlede kon kinders in die grondslagfase met gemak vyf take in ’n ry onthou en uitvoer. “Dit het beslis verswak. Ons sien nou gereeld dat dié ouderdomsgroep net drie take kan doen en dan begin hulle sukkel.”

Sy beklemtoon dat dit nie alle kinders is nie, maar oor die algemeen is.

Kinders moet meer lees. Foto verskaf

Pandemie-penarie

Die Covid-19-pandemie waartydens skole gereeld in 2020 en 2021 gesluit was, het ook ’n rol in die verswakte lees gespeel.

“Ons sien dit veral in die gr. 4 en gr. 3-groepe wat daardie jare in gr. R en gr. 1 was. Die groep is noemenswaardig agter wat betref die standaard waarop hulle moet wees.”

Sy sê in die grondslagfase word die basis van lees gevorm. “ ’n Verdere probleem wat daaruit voortvloei, is dat dié kinders ook dikwels ’n sosiale agterstand het en sukkel met groepwerk. “Ons sien gereeld in die ouderdomsgroep hoe hulle sukkel om saam te werk. Almal praat gelyk en bo-oor mekaar. Hulle sit moeilik stil.”

Die Covid-19-pandemie het ’n rol in die verswakte lees by kinders gespeel. Foto: iStock

Sommige kinders sukkel meer

Van Pletzen sê ’n mens moet ook onthou dat sommige kinders meer sukkel om te lees as ander. “Kinders se vermoëns verskil en dit sal noodwendig tot gevolg hê dat jy kinders het wat van nature beter as ander lees.

“Daar is ook struikelblokke soos kinders met disleksie , aandagafleibaaheid, visuele en perseptuele vaardigheid, wat nog ontwikkel moet word.”

Kry boeke oor dinge waarin kinders belangstel. Foto: iStock

Wenke vir beter lesers

  • Ouers moet self ’n voorbeeld stel, selfone los en leestyd inruim.
  • Kry boeke oor dinge waarin jou kind belangstel.
  • Maak lees eerder maklik, en help jou kind om selfvertroue daarmee te ontwikkel.
  • Kry professionele hulp as jou kind sukkel. Daar is baie hulp beskikbaar.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.