Central SA
Projek van miljoene sal help met wateruitdagings in Parys─── TSHEHLA KOTELI 12:10 Thu, 17 Aug 2023
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit sê hy het die inwoners van Tumahole in Parys se hulpkreet gehoor. Die nodige maatreëls is getref sodat hulle weer water en elektrisiteit kan hê.
Victoria De Beer-Mthombeni, burgemeester, sê verskeie vergaderings is gehou om oplossings te vind vir dié uitdagings. “Ons het met die waterbehandelingsprojek begin wat sal fokus op die oplossing van die waterprobleme in die gebied.” Die uitdagings het erger geword ná die Covid-19-pandemie.
“Ons het met die waterprojek van R66 miljoen by die watersuiweringsaanleg begin. Elke aspek van die watersuiweringsaanleg sal in stand gehou word.” Die munisipaliteit het ook ’n bystandkragopwekker gekoop sodat daar water is tydens beurtkrag.

Die munisipale pypleidingprojek in Tumahole. Foto: Facebook
Tammy Breedt, VF Plus-parlementslid, het vroeër aan OFM Nuus gesê die munisipaliteit het sommige gebiede gedwing om sonder water te oorleef. Inwoners was vir die grootste deel van hul dag sonder elektrisiteit, aangesien hulle twee verskillende stelle beurtkrag ervaar – een deur Eskom en een deur die munisipaliteit. “Soms het inwoners elektrisiteit vir net vyf uur per dag en ander dae vir net sewe uur.”
Die munisipaliteit is daarvan beskuldig dat hy nie oor goeie kommunikasievaardighede beskik nie, want die dorp weet nooit wanneer daar beurtkrag of geen water sal wees nie. Inwoners kla hulle kan nie voorberei op dié probleme nie.
