Central SA
SA Weerdiens waarsku teen wegholveldbrande─── HEIDRÈ MALGAS 15:24 Thu, 17 Aug 2023
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het waarskuwings in Mangaung uitgereik oor sterk wind en wegholveldbrande wat skade kan aanrig.
Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung Metro Munisipaliteit, sê die waarskuwings geld vandag tot omstreeks 20:00.
Hy sê onder hierdie omstandighede kan brande vinnig ontwikkel en versprei, wat skade aan eiendom en moontlike verlies van mense- en/of dierelewe kan veroorsaak.
Dié weersomstandighede word veral in die volgende gebiede verwag – die oostelike dele van die Noord-Kaap, suidelike dele van Noordwes, en die westelike dele van die Vrystaat.
Grondeienaars, boere en alle inwoners word versoek om versigtig te wees gedurende hierdie tydperk. Hoë voertuie soos vragmotors word aangeraai om stadiger as die spoedbeperking te ry om kruiswind-verwante ongelukke te voorkom.
