On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Terugslag op Michael se herstelpad

───   08:56 Fri, 18 Aug 2023

Terugslag op Michael se herstelpad | News Article
Michael Pretorius op die herstelpad. Foto verskaf

Wonderwerke en almal se gebede is nou nodig om Michael Pretorius (21) deur die volgende terugslag te kry. So sê sy pa, Nicky Pretorius, van Vaalpark in Sasolburg.

Michael en sy ouer broer Nicky (22) was op 28 Junie saam in ’n motorongeluk. Nicky is die dag ná die ongeluk in die Sasolburg-hospitaal oorlede. 

Michael is met verskeie veelvoudige beserings in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein opgeneem. Hy het sy nek en rug gebreek. Hy het ook altwee sy bene gebreek en het erg gesukkel met bloedtoevoer na sy linkerbeen.

Sy linkerbeen is verskeie kere geopereer en hy is na 36 dae uit die Pelonomi-hospitaal ontslaan om met sy lang rehabilitasieproses in Gauteng te begin.

Michael is terug in die Pelonomi-hospitaal ná ’n terugslag. Foto verskaf

Michael is egter verlede Vrydag (11/8) weer terug gebring na die Pelonomi-hospitaal nadat hy ’n baie aggressiewe infeksie in sy linkerbeen opgedoen het. Nicky sê hy is Vrydagaand geopereer om die been skoon te maak. Sy voet bly ook koud en daar kan steeds nie vasgestel word waarom die voet koud bly nie. Hy is weer Woensdagaand (16/8) geopereer. “Die infeksie is steeds in die been en Michael is op baie sterk antibiotika. Maar die infeksie is baie erg.”

Nicky sê hulle het Donderdagmiddag die slegte nuus ontvang dat infeksie deur ’n uiters aggressiewe kiem veroorsaak word wat hulle nou kon sien weens weefsel wat weggesny is om ontleed te word. Die uitslae is nie goed nie.

Michael en Nicky Pretorius. Foto verskaf

“Michael gou nou weer op ’n ander soort antibiotika geplaas word en indien dit nie werk nie, is amputasie ’n groot moontlikheid,” sê Nicky. Hy sê die familie is verpletter deur die slegte nuus en vra vir gebede om hulle deur die moeilike tyd te dra.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.