Central SA
Vermeende motorkaper, moordenaar in Kimberley vasgetrek─── HEIDRÈ MALGAS 14:49 Tue, 22 Aug 2023
’n Vermeende motorkaper, wat na bewering twee lede van die blitspatrollie in Kimberley doodgeskiet het, is in hegtenis geneem.
’n Polisiewoordvoerder Mashay Gamieldien sê die provinsiale kommissaris van die SAPD in die Noord-Kaap, Koliswa Otola, is hartseer en geskok oor die skietery wat tot die dood van twee lede van die blitspatrollie gelei het.
Die sersant en konstabel was besig om ondersoek in te stel na ’n gesteelde voertuig wat van Bloemfontein onderweg was. "Toe hulle die voertuig in Kimberley sien, het hulle dit agtervolg," sê sy. Die man het 'n ongeluk met die voertuig by die Transnet-depot gemaak, waarna daar ’n skietery was en die twee beamptes noodlottig gewond is.
Die gewapende man het volgens 'n Transnet-werker ’n bakkie uit hul depot gesteel en dit is by die Diamond Pavillion Mall opgespoor, waar die polisie na hom gesoek het.
Otola sê alle polisiebronne is gemobiliseer om hom op te spoor en hy is later in hegtenis geneem.
Die winkelsentrum is intussen weer oopgestel vir die publiek. Die man sal binnekort in die hof verskyn en van onder meer moord aangekla word.
