On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

AfriForum ry nou ook vullis weg

───   08:12 Wed, 23 Aug 2023

AfriForum ry nou ook vullis weg | News Article
AfriForum gebruik privaat vullisverwyderingsdienste om inwoners se vullis te verwyder. Fotot: AfriForum/Facebook (skermgreep)

Die burgerregteorganisasie AfriForum, wat vroeër vandeesmaand in Pretoria ingespring het om inwoners se rommel tydens ’n staking deur munisipale werkers te verwyder, bied aan om dieselfde vir Bloemfontein se inwoners te doen.

Jaco Grobbelaar, streekhoof van AfriForum, sê duisende inwoners maak reeds van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik. “Belastingbetalers gaan gebuk onder Mangaung-munisipaliteit se swak dienslewering, veral vullisverwydering in Bloemfontein.”

Dit beteken egter dat inwoners dubbel betaal vir dié diens, maar hiervoor het AfriForum ook ’n oplossing: inwoners kan ’n versoek aan die Mangaung-metro rig om die munisipaliteit se diens te kanselleer sodat hulle nie twee keer daarvoor hoef te betaal nie.

Grobbelaar sê dit is tyd dat die gemeenskap sy stem dik maak en weier om vir ’n diens te betaal wat nie gelewer word nie.

“Dienste wat privaat gelewer word, is meer betroubaar en goedkoper as wat die munisipaliteit tans bied. AfriForum lewer al vir vier jaar vullisverwyderingsdienste aan lede en nie-lede, dit kán gedoen word.”


Volgens die munisipale verordening is inwoners aanspreeklik om vir vullisverwydering te betaal, maar kan daarvan vrygestel word indien hulle die munisipaliteit skriftelik in kennis stel en die munisipaliteit dan daartoe instem.

“Dit is die inwoner se verantwoordelikheid om met die munisipaliteit op te volg oor die kansellasie van hul dienste en kostes.”

AfriForum het ’n voorbeeld van ’n skrywe wat inwoners aan die metro kan rig, op sy webwerf beskikbaar gestel.


Maroela Media berig dat AfriForum in Pretoria vroeër vandeesmaand ingespring het om inwoners van Garsfontein te help nadat ’n voortslepende staking deur werkers van die Tshwane-metro daartoe gelei het dat vullis vir bykans vier weke nie verwyder is nie.

“Die inisiatief was slegs ’n tydlike oplossing, maar AfriForum wil met ander rolspelers saamwerk om volhoubare oplossings in plek te stel.”

AfriForum se dienstemaatskappy, Pionier, vra R140 vir lede en R155 vir nie-lede per maand om ’n huishouding se vullis te verwyder.

OFM Nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.