Central SA
’n Saluut vir Stofberg: ‘Die reus is nie meer met ons nie’─── 10:11 Wed, 23 Aug 2023

Die voormalige Springbokkaptein Theuns Stofberg is vanoggend oorlede.
Hy is Maandagaand ernstig beseer in ’n botsing reg van voor waarin ’n vrou van die ander motor dood is. Hy was in ’n kritieke toestand in die hospitaal.
“Sy vele beserings was te erg vir sy liggaam om te herstel en hy is vroeg Woensdagoggend oorlede,” sê sy familie in ’n verklaring, berig Maroela Media.
Noodlottige botsing
Stofberg (68) was Maandagaand op pad terug huis toe nadat hy by sy jongste dogter en skoonseun, Anzél en Stephanus Rabie, asook sy ses weke oue kleindogter gekuier het. Hy was ná 18:00 in sy Toyota Prado op die R304 (Koelenhof-pad) in die noodlottige botsing betrokke.
Netwerk24 berig dat Carine Strydom (65) in die ongeluk dood is. Sy en haar man, Theo, die eienaars van die Spar-winkel in Moorreesburg, was op pad terug na Moorreesburg nadat hulle ’n vergadering in Somerset-Wes bygewoon het. Strydom het sy dogter, Janine Fourie, omstreeks 18:25 gebel om te sê hulle was in ’n ongeluk. Volgens Fourie het ’n voertuig haar ouers se motor van voor getref nadat ’n bakkie wat voor haar ouers gery het, uit die pad geswaai het.
Die ongelukstoneel waar Theuns Stofberg ernstig in ’n ongeluk beseer is. Carine Strydom is in die ongeluk dood. Foto verskaf
Stofberg moes met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word. Hy het onder meer frakture aan sy ribbes en pelvis opgedoen, ’n rib het deur sy long gesteek en hy het baie inwendige bloeding gehad. Hy word oorleef deur sy vrou, Martie, hul kinders, Elni, Theunis, Johan en Anzél, en sewe kleinkinders. Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
Bekend vir sy spoed en grootte
Hy was die kaptein van die Springbok-rugbyspan vir vier toetse tussen 1980 en 1984 en hy word onthou vir sy spoed en sy grootte (1,96m en 106kg). Hy het in 21 toetse gespeel en ook ses toetsdrieë gedruk.
Hy is op 6 Junie 1955 in Villiers in die Vrystaat gebore en het sy skoolloopbaan aan Grey-kollege in Bloemfontein voltooi. Hy was een van drie Grey Old Boys wat die Springbokke aangevoer het. Die ander twee is Morné du Plessis en Adriaan Strauss.
Theuns Stofberg en sy vrou, Martie. Foto: Facebook
Hy is ook die enigste speler in die geskiedenis wat die Curriebeker by drie verskillende provinsiale spanne gewen het – die Vrystaat (1976), Noord-Transvaal (1979 en 1980) en die Westelike Provinsie (1982 en 1983).
Ware Vrystaatse boere-adel
Stofberg was ware Vrystaatse boere-adel: Sy oupagrootjie, na wie hy vernoem is, was pres. M.T. Steyn en sy ander oupa was dr. N.J. van der Merwe, medestigter en eerste hoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en eerste hoofleier van Die Voortrekkers-kultuurbeweging.
Dr. Danie Langner, hoof van die Voortrekkermonument, sê op Facebook hy onthou nog hoe Stofberg op 19 jaar as model vir sy oupa se grafsteen op die Voortrekkerplaas, Doornkloof in die Lindley-omgewing gebruik is.
‘Jong Voortrekkerseun, fier en regop’
“ ’n Jong Voortrekkerseun wat fier en regop staan en met die mooi grafskrif: Saluut aan die lewe. Deur die jare het Theuns ’n lewendige belangstelling in die FAK en Voortrekkers gehad. Nog onlangs het hy laat weet hy het nuwe foto’s en briewe van dr. N.J. ontdek.
Die grafsteen van dr. N.J. van der Merwe op die Voortrekkerplaas, Doornkloof. Stofberg was as 19-jarige die model vir die standbeeld. Foto: Facebook/Danie Langner
“Ai, my hart is baie seer. ’n Reus van ’n mens met nog ’n groter hart is nie meer met ons nie. Mag sy gesin en familie Jesus se troos en liefde naby beleef. Ook sy susters, Carin van Ginkel en Tibbie Odendaal. Ons bid vir julle. Soos Theuns vir sy oupa gedoen het, salueer ons hom vandag met ’n saluut aan die lewe.”
“Ons hart is seer en betreur die heengaan van nie net 'n rugbyreus nie, maar ook 'n ongelooflike deernisvolle mens,” sê Derek Beukes op Facebook. “Hy het gelewe om te sien hoe mense verander en was lief vir elke persoon wat hy ontmoet het. Ek het hom met sulke sagmoedigheid en opregtheid en eie kwesbaarheid sien praat. Martie Stofberg, ons hart gaan uit na jou, want ek is seker ons seerkry verbleek in vergelyking met wat jy en Anzél en die kinders moet deurmaak.”