On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Ma ondersoek moordsaak self ‘omdat polisie haar faal’

───   12:01 Wed, 23 Aug 2023

Ma ondersoek moordsaak self ‘omdat polisie haar faal’ | News Article
Nikki Hattingh. Foto: Facebook

Sy voel die polisie het haar gefaal en uit desperaatheid probeer sy self om haar dogter se vermeende moordenaars aan die pen te laat ry.

Tilly Hattingh van Klerksdorp het wel belangrike bewysstukke van haar dogter se moordtoneel verwyder. Sy sê in ’n openhartige onderhoud met OFM Nuus sy weet dit lyk of sy inmeng, maar sy is baie desperaat omdat sy “100% seker” is sy weet wie haar kind vermoor het. Dit voel vir haar of al haar pogings om die inligting aan die polisie deur te gee net op die polisie se dowe ore val.

Intussen het die polisie bevestig hulle doen alles in hulle vermoë om ten alle tye ’n professionele diens aan die gemeenskap te lewer.


Hattingh sê haar dogter, Tessunique (Nikki), is op 21 Maart naby haar ouerhuis met ’n mes doodgesteek. Nikki (28) is om 18:30 by die huis uit en het nog vir haar gesê sy kom nou terug. Nikki het leergestremdhede gehad. Later die aand het haar ma gewonder waar sy is en het haar dogter se liggaam op die erf gekry. 

Hulle woon op ’n hoewe waar daar ’n koppie is. Ander mense woon ook daar.

Nikki Hattingh (28). Foto verskaf

Sy sê sy het genoeg bewyse om te glo sy weet presies wie vir Nikki vermoor het. “Die polisie weier net om enige inligting te deel. Ek is so moedeloos en moeg.

“Niemand beskerm ons nie.  Ons weet nie meer watter kant toe nie. Ek het al my besittings verkoop om antwoorde te vind en geregtigheid vir my kind te kry.”


“Hoe kan ek ooit berusting vind?”

Nikki Hattingh is met 'n mes doodgesteek. Foto verskaf

Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê sy kan bevestig dat Nikki se moord ondersoek word. “Twee verdagtes is aangekeer, maar die saak is op 14 Julie teruggetrek omdat hulle nie met die moord verbind kon word nie.”

Myburgh sê daar is DNS-toetse gedoen maar die uitslag is nog nie bekend nie.

“Die ondersoek gaan voort en ’n ervare polisieman is nou aangestel.”

Sy sê geen bewysstukke mag ooit van ’n misdaadtoneel verwyder word nie. Die polisie moet in kennis gestel word en alle bewyse self insamel.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.