Central SA
Grey-leerling se gedenkdiens vir Vrydag beplan─── 15:38 Wed, 23 Aug 2023

Familie, vriende, klasmaats en onderwysers neem Vrydag afskeid van Armand Fourie (18) van Grey College in Bloemfontein wat Saterdag oorlede is.
Mandie Laubscher, Grey College se bemarkingsbestuurder, sê die gedenkdiens word Vrydag om 11:00 in die Universitas Geloofsentrum gehou.
Armand se ma, Amanda, het Saterdagmiddag op Armand se liggaam afgekom. Geen misdaad word vermoed nie.
Een van sy krieketafrigters, Adri Swanepoel, sê Armand het ’n onuitwisbare merk op hul hart gelaat. “Sy goeie werketiek en vermoë om aan te pas by die behoeftes van die span, het hom ’n ware leier gemaak.
‘As ek dink aan Armand, sien ek ’n glimlag’
“Sy nalatenskap as ’n uitmuntende kolwer en inspirerende eerstespanspeler sal lank ’n gaping los in ons krieketgemeenskap. Ons eer sy gedagtenis en koester die nalatenskap van passie en toewyding wat hy agterlaat.”
“As ek dink aan Armand, sien ek ’n glimlag en ’n uitsonderlike veggees, al het dit soms moeilik gegaan,” sê Hedwig Keyter, een van sy onderwyseresse.
“Hy was altyd bereid om oor iets te gesels en soms ook lekker te stry, maar het altyd ’n groot, positiewe bydrae gemaak met wat hy gesê en gedoen het.” Armand se plek in haar klas is leeg, maar haar hart is vol mooi herinneringe.
Armand Fourie is Saterdag oorlede. Foto: Facebook
Drie van sy goeie maats, het ook ’n huldeblyk oor hom aan OFM gestuur. “Armand was ’n persoon wat jou elke liewe dag opgekikker het, en elke keer opreg bedoel as hy eerste gevra het hoe dit gaan. Sy aansteeklike lag, unieke sin vir humor en sy tergende aksies het hom die mens gemaak wie hy was, en vir wie ons almal hom sal onthou. Hy was die definisie van ’n ware pel.”
Nog een skryf: “Armand was meer as ’n vriend. Hy was vir my soos nog ’n broer. Hy sal onthou word as iemand wat altyd tyd gehad het vir ’n grap en lekker lag.”
Armand Fourie het in krieket uitgeblink. Foto: Facebook
Nog ’n hegte vriend skryf: “Armand was ’n persoon met baie talente en was meestal bekend vir sy krieket, maar vir my was dit sy glimlag. Dit was die lig aan die einde van die tonnel. Armand was ’n ware vriend. Hy het altyd die beste uit mense gebring en sonder dat hy geweet het was hy vir baie ander ’n rolmodel.”
• Netwerk 24 het vroeër berig sinoviale sakroom, ’n sagteweefsel-kanker, is in Januarie by Armand gediagnoseer, maar dit was in remissie. In Mei is ’n kankergewas uit sy linkerdyspier verwyder. Die operasie was suksesvol, en hy is ná chemoterapie vry van die kanker verklaar.