Central SA
Vrystaat Landbou vra publiek se ondersteuning ná brande─── 11:29 Sat, 26 Aug 2023

Vrystaat Landbou sal vandag 'n vinnige opname doen oor die onmiddellike behoeftes van die boere in brandgeteisterde gebiede in die Vrystaat.
Vrystaatse boere en brandbestryders is uitgeput nadat hulle tot in die nagtelike ure wegholveldbrande bestry het wat deur sterk wind aangevuur is.
Vrystaat Landbou sal vandag 'n vinnige opname doen oor die onmiddellike behoeftes van die boere in brandgeteisterde gebiede in die Vrystaat.
Vier afsonderlike, groot wegholveldbrande het Vrydag (25/8) onder meer rondom Brandfort, Dealesville, Soutpan en Boshof gewoed.
Danksy gekoördineerde pogings en beheerde voorbrande langs die R30 – bestuur deur Johann Savage Breytenbach van die Vrystaat-sambreelbrandbeskermingsvereniging – asook veranderende weerstoestande was die veldbrande uiteindelik teen middernag onder beheer.
Groot wegholveldbrande het Vrydag (25/8) onder meer rondom Brandfort gewoed. Foto: Facebook
Voorbrande is die laaste uitweg om te keer dat veldbrande spesifieke gebiede verswelg. Dit werk deur vure beheerd te stig vanaf inperkingslyne, soos gevestigde brandbane. Voorbrande kan in die nag of tydens weerstoestande gedoen word wanneer die brandgevaar laag is. Dit is egter gevaarlik en hou aansienlike risiko's in om ’n gebeurtenis te vererger.
Vrystaat Landbou doen 'n beroep op die publiek om ondersteuning te bied in terme van skenkings aan die ramphulpfonds aangesien groot verliese in terme van vee, toerusting, geboue en infrastruktuur aangemeld is.
’n Gedetailleerde verslag van die omvang en skade wat deur die brand veroorsaak is, kan eers ná 2 tot 3 weke verwag word.
Vandag sal boere hul vee probeer vind en versorg. Hulle moet dan verskuif word na waar hulle toegang tot water en kos kan kry. Heinings moet herstel word en opruiming sal begin terwyl hulle waaksaam moet bly teen moontlike opvlammings.
Die oorsake van die brande is tans nie bekend nie. ’n Rooi Brandgevaar-indekswaarskuwing vir die grootste deel van Suid-Afrika is die vorige dag deur die SA Weerdiens uitgereik en versprei.
Dit het gedui op toestande wat uiters bevorderlik is vir wegholveldbrande, naamlik sterk winde, hoë dagtemperature en ’n lae humiditeit. ’n Baie hoë brandstoflading op die veld ná ’n paar goeie reënvalseisoene het die intensiteit van die brande verhoog. Met die stormwinde het selfs brandbane nie die brande bedwing nie.
VL se André van Rensburg, Brandfort se distriksverteenwoordiger, doen ’n beroep op die publiek om geen oop vure onder sulke uiters gevaarlike toestande te maak nie.