On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Raakpraters en Eende van Bloemfontein praat ’n plek los tydens Dink of Sink

───   ELSABÉ DE JAGER 08:00 Mon, 28 Aug 2023

Raakpraters en Eende van Bloemfontein praat ’n plek los tydens Dink of Sink | News Article
Junior wenspan met Mia Lindhout, Marciné Kearney en Juliette Schoeman Foto verskaf

Elke deelnemer moes op sy voete dink voordat hy oor ’n onderwerp kon begin debatteer.

Twee spanne van Oranje Meisieskool het op 24 Augustus hul pad oopgepraat na die finale rondte van Afriforum se nasionale onvoorbereide Dink of Sink-skoledebatskompetisie. Tien skole en 28 spanne het op dié dag sake uitgespook.

Die juniorspan, bestaande uit Juliette Schoeman, Marciné Kearney en Mia Lindhout, word die “Raakpraters” genoem. Hulle het tydens die Streeksuitdunrondte, wat in Bloemfontein plaasgevind het, die beoordelaars oortuig dat toeskouers by, en deelnemers aan Suid-Afrikaanse skolesport té aggressief tydens wedstryde optree.


Vir Mia was die deelname ’n geleentheid wat sy altyd sal onthou. Aangesien die kompetisie onvoorbereide debattering behels, moes elke deelnemer op sy voete dink. Sy sê dat ’n goeie algemene kennis van groot waarde is tydens deelname.

Senior wenners Karli van Heerden, Dominique du Plessis en Lara Potgieter

Die senior span, genaamd #Een(d) is verteenwoordig deur Karli van Heerden, Dominique du Plessis en Lara Potgieter. Hulle het die stelling verdedig dat buurtwagte die beste stelsel is om Suid-Afrikaanse gemeenskappe veilig te hou.


Karli sê die dag was opwindend en al die deelnemers het lekker saamgekuier. Spanwerk is van groot belang tydens debattering. Vir haar lei deelname aan debat ook tot gemaklike sosiale deelname in die alledaagse lewe.

Lara is die debatkaptein van Oranje Meisies. Sy neem al vanaf Graad 8 deel aan die Dink of Sinkkompetisie. Sy is vanjaar in Graad 12. Vir haar bly dit steeds verrassend om te sien hoeveel voorbereiding mens in slegs vyf minute kan inploeg voordat jy oor ’n onderwerp moet begin debatteer.

Die twee spanne is slaggereed vir die finale rondte in Pretoria.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by Afriforum, sê dié kompetisie is ’n groot treffer onder hoërskoolleerlinge. Hulle word met waardevolle vaardighede toegerus om op hul voete te dink en standpunt met oortuiging in te neem.

Die wenners van die vyf streeksuitdunne wat vanjaar landwyd plaasgevind het, neem op 7 Oktober tydens ’n galageleentheid deel aan die finale rondte in Pretoria.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.