Central SA
Taxipassasiers red ouma, kleindogter van ontvoerders─── 09:25 Mon, 28 Aug 2023
“Onderweg het die Mercedes drie pap bande gekry en sonder petrol gaan staan.”
’n Bejaarde vrou wat Saterdag saam met haar kleindogter deur twee mans in haar motor ontvoer is, kon die aandag trek van ’n verbygaande taxi. Die passasiers het uitgespring en een van die mans vasgetrek. Hy verskyn vandag (28/8) in die hof in Arlington.
A.o. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die vrou (62) het Saterdagmiddag ingestem om die verdagte, wat aan haar bekend is, en sy vriend naby ’n stapplek op die pad tussen Arlington en Lindley af te laai.
‘Hulle het skielik aggressief geraak’
Hulle het in haar Mercedes Benz gery. Haar negejarige kleindogter was ook in die motor. Toe sy op die voorafbespreekte plek stilhou, het hulle glo skielik aggressief teenoor haar geword en haar beveel om hulle na Senekal te neem, maar sy het geweier.
“Sy het probeer weghardloop maar die bestuurder het oor haar linkervoet gery en haar weer in die voertuig gedwing.”
“Hulle het haar na bewering van agter die stuurwiel geneem en in die voorste passasiersitplek gedwing.”
Een van die mans het verder bestuur, maar onderweg na Senekal op die R707-pad het die Mercedes drie pap bande gekry en toe sonder petrol gaan staan.
“Sy het probeer weghardloop maar die bestuurder het oor haar linkervoet gery en haar weer in die voertuig gedwing. Die een man het geloop om petrol te koop terwyl sy en haar kleindogter en die verdagte in die motor gewag het.
Taxipassasiers hardloop verdagte ontvoerder in
“Sy het ’n aankomende minibustaxi gesien en dit voorgekeer. Die verdagte het uitgespring en te voet gevlug. Die passasiers in die taxi het hom agternagesit en gevang en gewag totdat die polisie van Arlington op die toneel opgedaag het.”
’n Ambulans is ook ontbied. Sy is na die plaaslike hospitaal geneem vir behandeling vir ’n gebreekte voet.
Die verdagte verskyn vandag in die landdroshof in Arlington op aanklagte van ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die tweede verdagte is nog op vrye voet.
OFM Nuus
