Central SA
Leeu in aanhouding vind ná jare tuiste in die Vrystaat─── 08:00 Tue, 29 Aug 2023

Daar heers baie opwinding ná ’n groot reddingspoging om ’n leeu, ná meer as ’n dekade in aanhouding, veilig in die Vrystaat te kom vestig. Die besonderse storie het hom die afgelope week midde groot internasionale belangstelling afgespeel.
Jan Creamer, president van die nie-winsgewende organisasie, Animal Defenders International (ADI), sê Ruben is tussen 15 en 17 jaar gelede in ’n private dieretuin in Armenië (in die westelike dele van Asië) gebore. Die eienaar van die dieretuin is sowat vyf jaar gelede oorlede en die familie wou al die diere uit die dieretuin verwyder het. “Daar is plek gevind vir al die ander diere, asook al die leeus behalwe vir Ruben. Hy het die afgelope vyf jaar alleen daar op die perseel agtergebly. Die eensaamheid was so erg dat Ruben selfs ook opgehou het om te brul,” sê sy.
Die ADI het besluit om hom te red en na hul wildlewe-reservaat naby Winburg te verskuif. Creamer sê omdat dit ’n ingewikkelde proses is, het dit nou bykans ’n jaar geneem om Ruben hier te kry. Hy het Donderdag (24/8) uiteindelik by sy nuwe tuiste aangekom.
Oor die uitdaging om hom hier te kry moes die regte kanale met al die rolspelers gevolg word. Dit sluit in die nodige permitte en regulasies met betrekking tot die invoer van ’n wilde dier. Veeartse van Suid-Afrika en Armenië het ook hulp verleen.
Ruben het 15 tot 17 jaar agter tralies en op ’n sementvloer gebly. Foto: Verskaf
“Ruben moes ook eers vir ses maande in kwarantyn bly voor hy kon vlieg.” Sy sê dit was ’n ontsettende lang en ingewikkelde proses, maar hulle is dankbaar dit is nou afgehandel.
Die belangrikste is om Ruben nou te kry om aan te pas en gewoond te raak aan sy nuwe tuiste.
“Ruben het die afgelope 15 tot 17 jaar agter tralies en op ’n sementvloer gebly. Daar was nooit son op sy vel of gras onder sy pote of enige natuurlike stimulasie vir hom nie. Hy het reeds die naweek vir die eerste keer weer probeer om te brul en het ook beslis gehoor daar is ander diere.”
Dr. Peter Caldwell, die ADI se veearts van Pretoria, het Ruben deeglik ondersoek. Hy het nie baie goeie sig nie weens katarakke in albei sy oë en dit het nou begin kristalle vorm. Hulle kon wel vasstel dat Ruben vorms kan sien en kan hoor en ruik. Hy is nog bietjie onvas op sy pote en kry vitamiene en minerale aanvullings.
Dr. Peter Caldwell het Ruben deeglik ondersoek. Foto verskaf
Creamer sê die koste om Ruben te versorg, te vestig en te voer gaan ’n aardige bedrag beloop. Enigiemand wat betrokke wil raak kan gerus sy storie volg op Animal Defenders International se Facebook-blad.