On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Motorfietsongeluk: Marion sê haar kinders was 'ongelooflike' mense

───   KAREN VAN DER BERG 15:19 Thu, 31 Aug 2023

Motorfietsongeluk: Marion sê haar kinders was 'ongelooflike' mense | News Article
Foto: Verskaf

"Voor sy daar weg is, het Sonika ’n kruis om my nek gehang, en gesê sy gee dit vir my as beskerming."

Drie dae voor sy dood het haar seun, André, by haar aangekom, haar gedruk en gesê: “Ek is baie lief vir ma.” So vertel Marion Schreiber-Kriel (68) van Meyerton.

André Schreiber(46) en sy vrou, Sonika, is Saterdag omstreeks 18:00 op slag dood toe hulle saam op ’n motorfiets in ’n botsing reg van voor met ’n bakkie betrokke was. Die ongeluk het sowat ’n kilometer van hul huis af gebeur.

Marion sê die volgende dag het Sonika ook by haar aangekom en vir haar die mooiste klere gebring. “Sy het vir my gesê ek moet meer pienk dra omdat ek mooi lyk daarin. Voor sy daar weg is, het Sonika ’n kruis om my nek gehang  en gesê sy gee dit vir my as beskerming.” Dit is vir haar so ironies, want op die einde het Sonika eerder die beskerming nodig gehad.

 Marion sê sy sukkel nog om die omvang van die tragedie te verwerk.

André saam met sy ma, Marion. Foto verskaf

“Dit is baie sleg om jou kinders te verloor en dit is nie hoe dit veronderstel is om te wees nie. Dit is onverstaanbaar. My wêreld het ineengestort. Hulle was wonderlike kinders. Hulle was lief vir mense en diere. Hulle het altyd gekyk waar hulle kan help.”

André was die president van die Vaal Toppies-motorfietsklub. Hy het by ’n ingenieursmaatskappy gewerk. Hy het ook ’n 13-jarige seun, Jordan. Sonika was ’n verkoopsverteenwoordiger.

’n Gedenkdiens word Maandag om 11:00 in Balfour vir die egpaar gehou.

André, Sonika en Marion. Foto verskaf

Marion sê sy wil graag ook nog ’n gedenkdiens vir hulle hou  saam met al sy motorfietsvriende in die Meyerton-omgewing.

Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, het aan OFM bevestig die ongeluk word nog ondersoek. ’n Saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak. Sy sê die bestuurder van die bakkie is ook dood, maar hulle kan nie die oorledene  se naam bekend maak nie.

OFM Nuus/ Karen van der Berg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.