Central SA
Munisipale vergadering oor bedrog gaan toe sonder kworum voort─── 09:52 Fri, 01 Sep 2023

“Dit was duidelik dat die aanwesige ANC-raadslede probeer het om Stuurman die gesag te gee om dokumente namens die burgemeester te onderteken.”
’n Spesiale raadsvergadering van Koffiefontein se Letsemeng-munisipaliteit, wat juis daarop gemik was om ongerymdhede en vermeende bedrog aan te spreek, het in ’n onwettige vergadering ontaard toe besluite sonder die vereiste kworum beslis is.
“Die spesiale raadsvergadering was daarop gemik om bevindinge oor die beweerde bedrieglike verkryging van konstruksievoertuie (sogenaamde geel vlootvoertuie) te bespreek,” sê Mariska Potgieter, raadslid van die Demokratiese Alliansie (DA). Sy sê in die verslag wat deur die speaker, ANC–lid Xolani Mthukwane voorgelê is, was daar geen inligting oor fakture of maatskappybesonderhede, maar slegs bankbesonderhede.
Munisipale werkers het buite die Letsemeng-kantore hul ontevredenheid oor raadsbesluite uitgespreek. Foto: Facebook/DA Letsemeng
In die afwesigheid van die burgemeester, Bonolo Mocwaledi, is voorgestel dat ANC–raadslid Vuyani Stuurman as waarnemende burgemeester vir haar instaan, ondanks teenkanting van die DA. “Dit was duidelik dat die aanwesige ANC-raadslede probeer het om Stuurman die gesag te gee om dokumente namens die burgemeester te onderteken.
“Die DA het saam met die ander opposisiepartye (die Ekonomiese Vryheidsvegters en Vryheidsfront Plus) hulle aan die vergadering onttrek om te verhoed dat ’n kworum gevorm kon word en te voorkom dat die ANC ’n vermeende bedrogdispuut tot sy voordeel manipuleer. Ondanks die afwesigheid van ’n kworum het die speaker aan ANC-raadslid Abraham Lebaka, voormalige burgemeester van Letsemeng, toegegee.”
Daar is met die vergadering voortgegaan, wat ’n oortreding van prosedures is. Lebaka het beslis dat die munisipaliteit se finansiële hoof verwyder word en die voorsieningskettingbestuurder, Leonard Manwele, is as waarnemende finansiële hoof aangewys.
Volgens Potgieter het munisipale werkers buite die munisipale kantore in protes teen die raad se uitspraak saamgedrom. “Die afwesigheid van die burgemeester en ander ANC-raadslede by die spesiale raadsvergadering dui op 'n magstryd binne Letsemeng se gebroke ANC-koukus.”
Potgieter sê die DA is bekommerd dat die ANC vir persoonlike gewin sy kaders bó die inwoners van Letsemeng stel en het onderneem om dit onder die aandag van Ketso Makume, die Vrystaatse LUR van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), te bring.
Thabo Nthapo, DA-raadslid in die Letsemeng–munisipaliteit, het onlangs ook sy kommer uitgespreek oor munisipale amptenare wat glo onafhanklik besluite neem en dit sonder die raad se goedkeuring uitvoer.
“In Junie het 'n kontrakteur toegang tot ’n Petrusburg-plaas verkry en gruis vir 'n plaveiselprojek ontgin, wat die raad se besluit en magtiging omseil het. Die Oppermansgronde-gemeenskap het in Augustus saamgetrek teen die ongemagtigde kommersiële gebruik van hul gemeenskapsaal. In Jacobsdal het die gemeenskap in opstand gekom toe 'n sakeman toegang tot die sportgeriewe bekom het en die toegangspad sonder die raad se toestemming afgesny het.
“Hierdie kwessies is maar enkele voorbeelde van Letsemeng-munisipaliteit se ellende. Die ANC-geleide administrasie worstel met politieke onstabiliteit en ondoeltreffende leierskap,” sê Nthapo.
Hy sê die DA word oorval met klagtes van klein-, medium- en mikro-ondernemings wat deur die Letsemeng-munisipaliteit se tenderproses benadeel word. “Die nadelige impak van tender-onreëlmatighede wat deur die munisipaliteit voortgesit word, belemmer hul vermoë om hul gesinne te onderhou en hul besighede uit te brei.
Die sogenaamde geel vloot is deel van ’n regeringsplan om munisipaliteite se dienslewering te bespoedig deur paaie te begruis en onwettige stortingsterreine te verwyder. Foto: Facebook
“Verskeie ondernemings voel uitgesluit en gemarginaliseer deur die munisipaliteit, met verwysing na gevalle van begunstiging en doelbewuste belemmering deur die munisipaliteit.
Die munisipaliteit se tenderprosesse word tans deur die polisie se Direktoraat vir Prioriteitsmisdaad (die Valke) ondersoek. Die fokus van hul ondersoek is 'n tender van R40 miljoen wat glo toegeken is aan 'n kontrakteur wat onder verdenking is vir die indiening van bedrieglike dokumente met betrekking tot die watersuiweringsaanleg in Koffiefontein.
“Die DA doen 'n beroep op die LUR van Cogta om in te gryp en te verseker dat geleenthede binne Letsemeng versprei word op grond van meriete en toepaslike kwalifikasies, eerder as politieke affiliasies.”