Central SA
Robotbouers van Douglas wys hul slag─── ELSABÉ DE JAGER 09:46 Fri, 01 Sep 2023
Die span van Douglas se keuse het geval op ’n konsep wat die proses van globale verwarming kan vertraag.
Vier leerlinge van die Hoërkool Douglas in die Noord-Kaap is deel van die top-tien wat deurdring na die volgende rondte van Suid-Afrika se SITA Robotikakompetisie tydens die Gov Tech Conference wat van 11 tot 14 September in Durban plaasvind.
Alana Visagie, onderwyseres en koördineerder van die span, sê die opdrag aan vanjaar se deelnemers was om iets te bou wat van die wêreld ’n beter plek sal maak. Die span van Douglas se keuse het geval op ’n konsep wat die proses van globale verwarming kan vertraag.
Frans Badenhorst, Kiandré Neelse, Roowney Eland en Johan Fourie, almal Graad 8 en 9 leerders, neem reeds vir die afgelope twee jaar as ’n span deel aan die Lego League-kompetisies. Hulle het onmiddellik dié nuwe uitdaging ook saam aangepak.

Die ontwerp word deurentyd verfyn ter voorbereiding van die volgende rondte. Foto verskaf
Badenhorst is die groepleier en het met die konsepvoorstel vorendag gekom. Daar is met die bouproses van ’n robot begin. Neelse het die voortou met die programmering geneem. Die robot is ontwerp en gekodeer om in areas te kan beweeg wat nie vir mense toeganklik is nie. Om daarin te slaag, moet dit hindernisse kan identifiseer. Eland en Fourie het die ontwerp verfyn om aan al die voorskrifte te voldoen.
Vir Badenhorst is deelname aan hierdie kompetisie ’n uitsonderlike ervaring. Vir die eerste rondte het 68 skole konsepte ingedien. Die opgewondenheid was groot toe hulle hoor hulle het deurgedring na die top-20. Om nou deel te neem as deel van die top-10, is inderdaad ’n hoogtepunt.
Badenhorst sê hulle projek behels dat kaliumhidroksied in die robot wat hulle gebou het geplaas word. Tydens die proses word koolstofdioksied, die grootste probleem van globale verwarming, uit die lug verwyder. Hy is trots daarop om deel van ’n groep te wees wat op hierdie wyse van ons planeet ’n beter plek kan maak.

Johan Fourie, Roowney Eland, hul onderwyseres Alana Visagie, Kiandré Neelse en Frans Badenhorst. Foto verskaf
Om sterk en saam te staan as ’n groep is vir Neelse van groot belang. Die kennis wat sy tydens die vorige rondtes opgedoen het, pas sy nou toe om haarself beter voor te berei vir die top 10-uitdaging.
Eland en Fourie sê hierdie kompetisie bied vir hulle die ideale geleentheid om nuwe vriende te maak en ook baie by hulle te leer. Hulle is ook trots daarop dat hulle die enigste Robotika-verteenwoordigers van die Noord-Kaap is.
Visagie is trots op haar entrepeurspan. Sy sê die seuns en meisie het onverwyld gehoor gegee aan die beoordelaars se voorstel dat elke span sy projek nog verder moet verfyn vir die volgende rondte. Dit is gedoen deur hul ontwerp in 3D-formaat te druk. Al wat nou nog oorbly, is die langpad Durban toe vir die uitdaging wat daar op hulle wag.
OFM Nuus/Elsabé de Jager
