Central SA
Sjef met ’n hart van goud reik uit na bejaardes, kinders in nood─── ELSABÉ DE JAGER 08:00 Mon, 04 Sep 2023

Tog, sê dié sjef met die hart van die kleur van ’n marigoldblom, dat hy wel sorg vir die nagereg op daardie aand!
Dit was tydens ’n koffieklets dat ’n sjef van Bloemfontein besluit het om sy hand uit te steek na ’n groep bejaardes en kinders in nood en vir hulle ook die son te laat skyn.
Frikkie Jones, eienaar van The Queen’s Table, sê sy vriendin Madeleine de Waal het vir hom vertel van haar besoek aan Marigold Place, ’n nie-winsgewende organisasie in Bloemfontein wat gesondheidsorg aan bejaardes bied. Dit was vir haar duidelik dat die diens wat gelewer word, ’n passie en nie bloot ’n werk is nie.
Frikkie Jones, eienaar van The Queen’s Table. Foto: Facebook
By Marigold Place bied die bestuurder, suster Freda Garzouzie, saam met haar span assistente, dagsorg, selfsorg, hulpsorg, volsorg, palliatiewe sorg asook versorging van pasiënte met demensie aan. Dié versorgingsoord het vanaf vier pasiënte tydens die Covid-tydperk gegroei tot 20 inwoners wat tans gehuisves word.
Toe Jones verneem 15 van die 20 pasiënte is van suurstofmasjiene afhanklik, het sy plan van aksie vorm aangeneem. Hy sou ’n fondsinsamelingsdinee hou wat dit sou moontlik maak om minstens één kragopwekker te skenk aan dié hawe wat Garzouzie met soveel liefde, al is dit onder moeilike omstandighede, bestuur.
Suster Freda Garzouzie van Marigold Place saam met haar assistent Siena Maslaba. Foto verskaf
Hy het hom tot Business Network International gewend en is dankbaar vir hul groot borgskap vir die geleentheid se sekuriteit, drukwerk, grafiese ontwerp en vermaak. Nog ’n groot bydrae kom van Jones se broer Abrie van Grains for Africa Western Cape, wat die tafelwyn vir die feesaand skenk.
Deetlefs Wynlandgoed bied tydens die gala-aand ’n wynproe aan. ’n Groot persentasie van die opbrengs van hul wynverkope sal dan ook as skenking dien vir die projek. Stalletjies, gelukstrekkings asook ’n veiling sal bydra tot die aand se vermaak en sukses.
Die Sentrale Universiteit van Tegnologie se Hotelskool gooi hulle deure oop met ’n borgskap vir die venue. Gaste sal by keurig-gedekte tafels bedien word deur studente van dié skool, wat bekend is vir sy internasionale standaarde wat hy aan die gasvryheidsbedryf stel.
Die venue vir die galageleentheid, die Sentrale Universiteit van Tegnologie se Hotelskool. Foto verskaf
Vanweë die hulp wat van alle kante af instroom, ook van talle borge wat deel is van die groep Vriende van The Queen’s Table, het Jones besluit om ook die Food4Kidz-groep te ondersteun met hierdie spoggeleentheid. ’n Deel van die aand se opbrengs sal geskenk word aan vier skole in Bloemfontein waar behoeftige kinders daagliks voorafverpakte kospakkies ontvang.
Op ’n vraag oor sy aandeel in die kosvoorbereiding vir die fees, wat op 14 Oktober plaasvind, lag hy en sê dat al die reëlings en administrasie hom tans dag en nag besig hou. Tog, sê dié sjef met die hart van die kleur van ’n marigoldblom, dat hy wel sorg vir die nagereg op daardie aand!
OFM Nuus/Elsabé de Jager