Central SA
Bye is my getuie, spog boer met raak voorspellings─── DANE BEISHEIM 11:08 Mon, 04 Sep 2023

’n Byeboer van Kaapstad sê sy insekte voorspel die uitkoms van sportwedstryde.
Charl Bahlmann, ’n byeboer van Kaapstad, sê sy gevleuelde insekte voorspel die uitkoms van sportwedstryde met ’n groot mate van sukses.
Hy verduidelik dat hy ’n bladsy in twee deel, met die twee betrokke spanne se name boaan. Gedeeltes van die bladsy word ook afgestaan aan rooi- en geelkaarte, en dies meer.
Die bye voorspel... Foto: Facebook
Daarna smeer hy die bladsy met heuning, en tel na tien minute hoeveel bye daar in elke kwadrant is.
“Hulle het met die laaste Fifa Wêreldbeker al vier die wedstryde in die kwarteindrondte se uitslae korrek voorspel. Met die Krieket Wêreldbeker het hulle die eerste sewe wedstryde van die Proteas reg voorspel, so ook met die Springbokke se mees onlangse wedstryde teen Nieu-Zeeland en Wallis,” sê Bahlmann.
Die bye voorspel... Foto: Facebook
Hy beklemtoon ook die belangrikheid van bye en die rol wat hulle speel in plantbestuiwing, sowel as die algehele gesondheid van die omgewing.
Hy moedig mense aan om nie bye dood te maak nie, en het die volgende raad vir luisteraars wat van ’n by in hul huis ontslae wil raak.
“Bye gaan altyd vir ‘n lig of die venster, so as daar ’n by in die vertrek is, trek net die gordyne oop. Die by sal na die lig toe vlieg. Red ’n by!”
Bahlmann, wat al tien jaar lank sy stokperdjie beoefen, en sy vrou is getroud op dieselfde dag as die Rugbywêreldbeker se finaal in 2007.