Central SA
BBP-syfers: 'Dit lyk op die oomblik asof dinge sywaarts beweeg'─── DANE BEISHEIM 11:48 Mon, 04 Sep 2023

Statistieke Suid-Afrika sal lig werp op die huidige ekonomiese situasie in Suid-Afrika wanneer die jongste BBP-syfers môre bekend gemaak word.
Statistieke Suid-Afrika sal Dinsdag in Pretoria die amptelike syfers van die bruto binnelandse produk (BBP) bekend maak vir die tweede kwartaal van 2023.
Die BBP het in die vierde kwartaal van 2022 met 1,1% gekrimp.
Ekonoom en dosent by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, Prof. Waldo Krugell, sê dit was te wyte aan verskeie faktore.
Prof. Krugell sê die reële BBP het in die eerste kwartaal van 2023 (tussen Januarie en Maart) met 'n geraamde 0,4% tot 0,7% uitgebrei.
"Beurtkrag het 'n groot impak op ekonomiese aktiwiteite, maar beurtkrag was nie so ’n groot faktor as wat verwag is nie. Intussen maak besighede en huishoudings aanpassings en dit blyk dat daar darem so klein bietjie groei was. Dit is nou in die aangesig van beurtkrag, hoë rentekoerse en al die ander uitdagings."
"Ons is al op pad na die einde van die derde kwartaal, en daar was weer ander dinamiek gewees rondom beurtkrag in Julie. Almal kyk vir daai 'draaipunt' - die oomblik waar jy kan sê dinge vaar beter. Dis moeilik om te sê. Dit lyk op die oomblik asof dinge sywaarts beweeg, maar nie slegter gaan nie."
Die vervaardigings- en finansieringsbedrywe was die belangrikste dryfvere van ekonomiese groei.
Grafiek: https://www.statista.com/
Intussen stel die Landbousakekamer van Suid-Afrika (Agbiz) veral belang in wat môre se aankondiging oor die landbousektor gaan sê.
In 'n verklaring wat vandag uitgereik is, sê Agbiz hy verwag 'n herstel in die landbou se bruto toegevoegde waarde ná 'n skerp inkrimping van -12,3% kwartaal-op-kwartaal.
Dit was deels as gevolg van oormatige reën wat veldgewasse-aanplantings met meer as 'n maand in sommige gebiede vertraag het.