Central SA
Ontevredenheid heers oor diens in Bloemfonteinse poskantore─── ELSABÉ DE JAGER 13:49 Mon, 04 Sep 2023
Die poskantoor-assistent het aan hom genoem dat dit nie sou help om na die Brandwag-tak te gaan nie, aangesien die situasie daar presies dieselfde is.
Groot ontevredenheid heers oor die swak diens wat die poskantoortakke in Bloemfontein tans lewer.
Roelof Koekemoer is een van die kliënte wie se geduld deesdae tot die uiterste beproef word. Hy het Maandagoggend die Fichardtpark-tak besoek om sy televisielisensie te hernu. Nadat die hele proses afgehandel is, is sy kaartbetaling geweier aangesien al die kaartmasjiene buite werking was.
Hy is aangeraai om kontant te gaan trek. Hieroor is Koekemoer ook ongelukkig, aangesien onnodige bankkoste benewens die ongerief ter sprake is. Daar was ook geen sertifiseringstempels beskikbaar vir dokumentasie nie.

Koekemoer meen die dienslewering by al die poskantore in Bloemfontein is swak.
Koekemoer is toe na die Langenhovenpark-poskantoor. Ook daar was die kaartmasjiene buite werking en geen sertifiseringstempel in sig nie. Op sy versoek om fotostate te maak, moes hy hoor dié masjien is al vir jare stukkend. Die assistent het aan hom genoem dat dit nie sou help om na die Brandwagtak te gaan nie, aangesien die situasie daar presies dieselfde is.
’n Moedelose Koekemoer sê sy versoek om met die areahoof te praat oor die probleme, het nie veel opgelewer nie.
