Central SA
Agt verdagtes gesoek ná inbraak by Bloemfontein-sentrum─── 15:01 Mon, 04 Sep 2023
Die verdagtes het te voet en met motorvoertuie in verskillende rigtings van die toneel gevlug.
Die polisie in Mangaung Metro het ’n soektog van stapel gestuur na die sowat agt verdagtes wat by 'n winkel by die Loch Logan Waterfront in Bloemfontein ingebreek het.
Volgens polisiewoordvoerder, Thabo Covane, dui berigte daarop dat 'n groep van sowat agt manlike verdagtes Sondag (3/9) omstreeks 18:00 die winkelsentrum binnegegaan het en by Woolworths ingebreek het.
“Hulle het die winkelvensters met hamers stukkend geslaan, ingestorm en duur parfuums, sonbrille en klere gesteel. Die groep het na bewering toe in twee verdeel. Een groep het na die Kings Way-afrit gehardloop en die ander was op pad na die stormwaterdreineringstonnel aan die westekant van die winkelsentrum,” het Covane gesê.

Loch Logan Waterfront. Foto: Facebook
Die groep wat na die tonnel op pad was, het 'n vrou raakgeloop en probeer om haar van haar besittings te beroof.
“ ’n Lid van die Departement van Korrektiewe Dienste, wat nie aan diens was nie, het die poging aanskou en probeer ingryp. Een van die aanvallers het 'n vuurwapen getrek, op die beampte gemik en die skoot wat afgegaan het, het die beampte skrams op die voorkop getref.
“Hy is van 'n vuurwapen en ammunisie beroof. Die groep het weggehardloop en in die stormwaterdreineringstonnel verdwyn,” het Covane verduidelik.
Bloemfontein Courant berig die ander groep by die Kings Way-afrit het 'n veiligheidsbeampte gyselaar gehou.
“SAPD-lede wat langs Kings Way gepatrolleer het, het die rumoer opgemerk en stilgehou om ondersoek in te stel. Die rowers het op die polisievoertuig losgebrand en die 41-jarige konstabel van die Mangaung Metro Distrik Operasionele Bevelsentrum (Misdaadbekampingseenheid) is in sy regterheup deur die koeël getref. Hy het toe vir veiligheid probeer wegry, maar het bewussyn verloor.
Volgens Covane het die verdagtes te voet en met motorvoertuie in verskillende rigtings van die toneel gevlug.

SAPD-lede wat langs Kings Way gepatrolleer het, het die rumoer opgemerk en ondersoek ingestel. Foto verskaf
“Albei gewonde amptenare is na die hospitaal gehaas vir mediese behandeling. ’n Span kundiges is ontbied om die toneel te verwerk. Klagte wat ’n inbraak, poging tot moord en roof van ’n vuurwapen is toe by die Parkweg-polisiestasie gelê.”
Die polisie het enige lid van die publiek wat moontlik inligting kan hê wat kan help met die ondersoek van die saak of tot die arrestasie van die verdagtes kan lei, versoek om kolonel Msokoli Bolsiek by 082-466-8530 te kontak.
Alternatiewelik kan inligting ingedien word op die MySAPS-toepassing of deur die SAPD-Crime Stop-nommer (08600-10111) te skakel.
