Central SA
Heidedaller ‘se ma kook beter as joune’─── HEIDRÈ MALGAS 12:18 Fri, 08 Sep 2023

“Daar was sommer van die begin af spesifieke uitdagings vir my. Ek dink weens die stres het ek my naels begin kou.”
Adrie Buffel en haar dogter, Chané, van Heidedal, Bloemfontein, het episode 9 van die TV-reeks My ma kook beter as joune op kykNET & Kie gewen. Early B is die aanbieder en twee spanne neem in elke episode deel.
Elke span bestaan uit ’n ma wat kan kook en een van haar kinders wat glad nie kan kook nie. Die wenspan kry R10 000 en kan spog met “My ma kán beter as jou ma kook”.
Adrie sê hul resep was maalvleis met kool en die bykos macaroni. Die spanne stuur vyf resepte in voor die kompetisie en die beoordelaars kies die resep wat hulle moet kook.
“Ons het niks voorbereiding gehad nie. Ons het daardie oomblik gesien wat ons moes kook. Chané het geen kooktegnieke nie en dit het my laat stres,” sê Adrie.
“Ek kyk gereeld kookprogramme en hou van kos maak. Ek het die eerste seisoen van die program gekyk en dit interessant gevind, maar die kombuis is vir my dogter 'n uitdaging. Ek kon net bid dat sy in daardie kort tyd klaar maak.”
Chané sê haar ma het baie keer vir haar gesê sy moet kom kyk hoe sy die verskillende geregte maak of sy moet kook vir aandete, dan het sy net twee minute gekyk.
“Daar was sommer van die begin af spesifieke uitdagings vir my. Ek dink weens die stres het ek my naels begin kou.”
R10 000 gewen
Toe hulle as wenners aangewys is, was hulle baie verbaas.
Hulle sê dit was baie onverwags, want daar was soveel wat kon skeefloop. Die span maak gewoonlik die dis in ‘n uur, maar hulle is minder as ‘n halfuur gegee om dit voor te berei.
Chané sê haar ma is lief vir die potte maar sy sal wel eendag haar liefde vir kook vind.