Central SA
Sunflower-hospies vier sy 25ste bestaansjaar─── ZENANDE MPAME 13:53 Fri, 08 Sep 2023

"Ons wil ’n deernisvolle gemeenskap in Bloemfontein bou van mense wat weet hoe om ernstig siek kinders te versorg.”
Die Sunflower-hospies vir kinders is die oudste in Suid-Afrika en is in 1998 gestig.
Sr. Joan Marston, stigter en deel van die bestuurspan, sê sy bied in September ’n werksessie vir ouers aan wat sukkel om met kinders oor dood en siektes te praat. “In die werksessie ondersoek ons die vrae wat kinders vra en wat die regte manier is om dit te bespreek en daarop te reageer.”
Die muur vol sonneblomme met die name van kinders wat gesterf het. Foto: Facebook/Sunflower Children's Hospice
“Ons sal ook kyk na die verskillende tale wat kinders gebruik, want sommige kinders gebruik woorde en ander kan nie praat nie, maar hulle kan vir jou wys en sommige kinders gebruik kreatiewe uitdrukkings soos kuns, musiek of spel,” sê sy.
Die eerste werksessie sal op 16 September van 11:30 tot 13:00 gehou word en die tweede een op 23 September van 14:00 tot 15:30. Dit sal by die Sunflower House by die Nasionale Hospitaal gehou word.
Marston het aan OFM Nuus gesê daar was die afgelope 25 jaar baie suksesverhale en hulle is bevoorreg om van babas, tieners tot jong volwassenes te versorg.
Die speelgrond en muur vol sonneblomme by die hospies in Bloemfontein. Foto: Facebook/Sunflower Children's Hospice
“Ons wil ook uitreik en baie meer opleiding vir mense in hul gemeenskappe bied. Ons wil ’n deernisvolle gemeenskap in Bloemfontein bou van mense wat weet hoe om ernstig siek kinders te versorg,” sê sy.