Central SA
Doktersvriende pak uitdaging deur 20 lande op ysterperde─── 15:30 Fri, 15 Sep 2023

Hierdie merkwaardige reis gaan nie net daaroor om kilometers af te lê nie; dit gaan daaroor om die gaping tussen voorreg en nood te oorbrug, om ander te inspireer om hul eie soeke na ’n beter wêreld te begin.
Twee ou universiteitsvriende – ’n mediese dokter en ’n sielkundige –begin Saterdag 16 September ’n motorfietsekspedisie deur Afrika na Spanje. Hul doel is om geld in te samel vir die benadeelde gemeenskappe in die Warden-omgewing wat ’n waterkrisis beleef.
Hierdie twee avonturiers van Pretoria– dr. Jean Cooper, 'n bestuurskonsultant en bedryfsielkundige, en dr. De Witt Oosthuizen, ’n mediese dokter wat in noodgevalle, landelike en afgeleë gesondheidsorg gespesialiseer het en nooddienste in Australië lewer – se liefdadigheidsrit, Expedition H2O, strek deur Afrika na Spanje. Hulle wil spesifiek geld vir benadeelde gemeenskappe in eZenzeleni, Warden, insamel.
Drs. Jean Cooper en De Witt Oosthuizen is daartoe verbind om 100 reënwatertenks in landelike Vrystaatse gemeenskappe te installeer.
Hulle het hul reis "Expedition H2O: Back to Basics" gedoop, en dit beloof om onvergeetlik te wees. Drie maande, 20 lande, en genoeg tyd om te dink oor wat werklik saak maak ... soos die tipe leierskap wat mense nodig het om hul houding teenoor water en mekaar te transformeer.
Hul doelwit is om 16 000 km af te lê en R3,2 miljoen in te samel, wat 4 800 mense of ’n hele gemeenskap toegang tot skoon water sal bied. Hul veldtog het reeds meer as R356 000 ingesamel.
Dr. Jean Cooper en dr. De Witt Oosthuizen. Foto verskaf
“Een van ons sleutelinisiatiewe wat ons vanjaar aangepak het, is die reis om water aan die eNzenzeleni-gemeenskap in die Vrystaat te verskaf. Hierdie projek het reeds begin deur water aan van die huishoudings in die gemeenskap te verskaf.”
Hulle is daartoe verbind om 100 reënwatertenks in landelike Vrystaatse gemeenskappe te installeer waar mense nie maklik toegang tot vars water het nie. Hierdie tenks sal 'n reddingsboei wees wat 'n volhoubare bron van skoon water vir hierdie verdienstelike dorpies verseker.
Jean Cooper en De Witt Oosthuizen se paaie het by Tukkies se Sonop-koshuis gekruis. Foto verskaf
Albei die avonturiers is in 1977 gebore. Hul paaie het by die Universiteit van Pretoria se Sonop-koshuis gekruis, 'n vriendskap is gesmee rondom gedeelde drome van avontuur en 'n diepgaande verbintenis om ander te help.
Vir Cooper beteken hierdie reis 'n oorgang van mentorskap van topbestuurders na die najaag van 'n doel groter as hyself. "Jy moet een of ander tyd begin leef en streef na iets groter as jyself," sê hy. Sy betrokkenheid by Direct Transact se eZenzeleni-waterprojek, ’n geregistreerde openbare welsynsorganisasie, het die pad vir hierdie lewensveranderende ekspedisie gebaan.
’n Kans om ’n verskil te maak in die lewe van behoeftiges. Foto verskaf
Vir Oosthuizen is hierdie ekspedisie ’n kans om ’n verskil te maak in die lewe van behoeftiges.
Hul reis begin hierdie Saterdag om 11:00 vanaf Trax Moto KTM in Silver Lakes, Pretoria. Oor die volgende drie maande sal hulle koers langs die Weskus van Afrika inslaan, wat uiteindelik Madrid sal bereik. Hul roete is gegrond op advies oor veiliger paaie deur Afrika, deur gesoute vragmotorbestuurders. Hulle beoog om teen middel Desember in Spanje te wees.
Van Pretoria na Madrid op twee Husqvarna-veldmotorfietse. Foto verskaf
Hierdie dinamiese duo op hul Husqvarna-veldmotorfietse, sal uiteenlopende terreine en klimaatstoestande teëkom – van stowwerige paadjies tot hoë humiditeit naby die ewenaar. Hul reis deur lande soos die Demokratiese Republiek van die Kongo en Kameroen sal hul vasberadenheid en veerkragtigheid toets. Oosthuizen sê: "Ons pak die reis aan om 'n nuwe ritme vir ons lewe te vind. Dit beteken ook om in baie opsigte te weet wat om te neem en wat om te los.”
Volg hul vordering en ondersteun hierdie ekspedisie by:
https://expedition-h2o.org/about-us.html
Of besoek hul Back-a-Buddy-blad:
https://www.backabuddy.co.za/champion/project/expedition-h2o-back-to-basics
Hierdie merkwaardige reis gaan nie net daaroor om kilometers af te lê nie; dit gaan daaroor om die gaping tussen voorreg en nood te oorbrug, om ander te inspireer om hul eie soeke na ’n beter wêreld te begin.
Cooper en Oosthuizen se avontuur is ’n bewys van die menslike gees se vermoë tot deernis, veerkragtigheid en die najaag van 'n groter doel.
OFM Nuus