Central SA
Vrystaat Versorging in Aksie vier volgehoue diens─── ELSABÉ DE JAGER 12:00 Tue, 12 Sep 2023
Versorging van bejaardes is vir VVA ’n belangrike aspek van hul dienslewering.
Die 31ste kongres van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) vind Woensdag (13/9) by Villa Avianto in Bloemfontein plaas. Vanjaar se byeenkoms sal nie net ’n viering van hul dienslewering en invloed op die gemeenskap wees nie, maar ook die herdenking van die VVA se 115de bestaansjaar.
Soos in 1908, met die totstandkoming van die destydse Oranje-Vrouevereniging, gestig deur pres. en mev. M.T. Steyn, bly die VVA steeds ’n baken van hoop in ’n samelewing waar mense gekonfronteer word met moedeloosheid en nood.

Kunskuierdag op Trompsburg. Foto: Facebook
VVA se toewyding aan dienslewering en sy diepgewortelde missie om mense in nood by te staan, te ontwikkel en te bemagtig, het deur die jare bly staan, sê Ria Malan, direkteur van maatskaplike dienste. Die 83 dienspunte – verspreid oor die Vrystaat heen – voorsien in die behoeftes van gemeenskappe. Dit sluit in tehuise vir bejaardes, behuisingskemas, dienssentrums, asook maatskaplike sentrums wat fokus op kinderbeskermingsdienste en -ontwikkelingsentrums, gesinsverhoudings, en verligting van armoede.
Versorging van bejaardes is vir VVA ’n belangrike aspek van hul dienslewering. Lewensgehalte van die ouer persoon bly te alle tye van groot belang. ’n Ondersteuningsomgewing is noodsaaklik waarin bejaardes gerespekteer en versorg kan word.

Vadersdag word saam met bejaardes gevier. Foto: Facebook
Malan sê ouer persone word toegelaat om hul eie keuses te maak oor die besit van plante, troeteldiere, familie en die omgewing waar hulle vestig. Alles moontlik word gedoen om huislike omstandighede vir hulle te skep waar hulle nie eensaam, verveeld of hulpeloos sal voel nie.
As ’n Christelike gefundeerde en volhoubare welsynsdiens in die Vrystaat, sien VVA daarna uit om nog vir jare ’n toonaangewende rol in die veld van welsynsdienste te speel en ’n merkbare verskil op vele terreine te maak.
OFM Nuus/Elsabé de Jager
