Central SA
Vrystaatse krieketklub nooi spanne vir Springfontein Sixes─── HEIDRÈ MALGAS 13:46 Tue, 12 Sep 2023
“Die spanne kom van oral en daar is ook ’n span van die Cheetahs.”
Die Springfontein Krieketklub se Springfontein Sixes word vanjaar weer in Oktober by die Prior Grange Oval gehou.

Die Springfontein Sixes is al 'n jaarlikste instelling wat baie aandag geniet. Foto verskaf
Stephen de Swardt, een van die organiseerders, sê daar is nog plek vir drie spanne. “Daar is ses spelers aan ’n kant en elke beurt bestaan uit vyf boulbeurte. Die spanne word in twee groepe verdeel, wat beteken dat elke span ses wedstryde speel.”
Die Sixes word op 27 en 28 Oktober gehou. Die Vrydagaand word ’n braai gehou en die Saterdagaand ’n spitbraai. Kaartjies kan vooraf of op die dag gekoop word. Daar sal ’n kosstalletjie wees en die plaaslike NG Kerk sal ook pannekoek verkoop.
“Die spanne kom van oral en daar is ook ’n span van die Cheetahs,” sê De Swardt.
Daar is groot tente met tafels en stoele, waar musiek gespeel word, asook ’n groot skerm waar almal na die Wêreldbeker-wedstryde kan kyk.

'n Feestelike krieketatmosfeer heers elke jaar. Foto verskaf
Die kleinspan word nie uitgesluit nie vir hulle is daar springkastele, fietse, trampoliens en glyplanke, en vir die vroue is daar ’n tennisbaan (klei).
Mense en maatskappye wat wil inskryf kan De Swardt direk kontak. Maatskappye kan ook betrokke raak deur borgskappe of hul produkte uitstal. Dit koste beloop R6 000 per span vir die naweek en sluit in speelgeleentheid, etes, kampering, balle en limonade in.
Die Sixes begin Vrydag om 13:00 en Saterdag om 06:30. Die eindstryd begin om 18:00 gevolg deur die prysuitdeling. Vir meer inligting bel 083-382-6616.
