Central SA
80-jarige verras met verjaardagviering hoog in die wolke – VIDEO─── KAREN VAN DER BERG 08:56 Thu, 14 Sep 2023
“Sy totale ure is grootliks op kleiner vliegtuie en dit is merkwaardig. Na raming, teen 200km per uur, is dit vir sy totale ure ongeveer 136 keer om die aarde.”
In wat as een van die hoogtepunte van sy lewe beskou word, het die familie van Jan Kasselman van Klerksdorp Woensdag (13/9) ’n baie besonderse verrassing vir hom op sy 80ste verjaardag beplan. Twee Harvard-vliegtuie is spesiaal vir die verrassing by die Klerksdorp-lughawe gereël. Die bekende Scully Levin, vlieënier, het kom besoek aflê en Kassie, soos hy bekend staan, het ook ’n beurt gekry om in een van die Harvards oor Klerksdorp te vlieg.
Kassie, wat geen onbekende in vliegkringe is nie en honderde mense oor die afgelope jare leer vlieg het, sê dit was ’n belewenis. “Ek het leer vlieg op Harvards. Die legendariese Mannetjies Roux het my leer vlieg. Ongelukkig kon hy my nie leer rugby speel nie,” skerts hy. Hulle is steeds groot vriende.
Hy sê om ná 67 jaar weer agter in ’n Harvard te kon vlieg en selfs die stok ’n bietjie te kon vashou, was ongelooflik.
“Dit was fantasties, ek is baie dankbaar teenoor my kinders. Ek is trots om ’n vlieënier te wees.”

Van links is Scully Levin (vlieëniersvriend), Kassie, Arnie Meneghelli (vlieëniersvriend), Jandré (seun), Ulrich (kleinseun), Jean Jacques (kleinseun) en Jean Pierre (seun). Foto verskaf
Sy oudste kind, Jandré, sê vir sy 80ste verjaardag wou sy pa nie ’n groot geleentheid gehad het nie. Sy plan was ’n intieme ete saam met sy geliefdes.
“Maar hy het honderde mense leer vlieg en mense se lewens aangeraak. Hy is net altyd ’n steunpilaar vir almal. Hy is jonk van gees en ons het almal saam besluit ons moet vir hom ’n baie spesiale dag reël. Ons wil net iets gedoen het om die lewe saam met hom te vier, in dankbaarheid dat hy nog in goeie gesondheid die lewe kan ervaar.”
Jandré vertel voorts een van die dinge wat hulle die meeste van hulle pa respekteer, is hoe hy altyd die reëls nakom en nooit kanse vat nie.
“Daar is min mense wat die kort afstande in kleiner vliegtuie in enige weersomstandighede soveel jare kon trotseer. Ons is baie trots op hom.”
Kassie het in 1962 met ’n vlieënierskursus in die Suid-Afrikaanse Lugmag op die Sentrale Vliegskool Dunnotter begin.
Hy is met Igna getroud en hulle was 56 jaar getroud. Sy is verlede jaar oorlede. Hulle het vyf kinders, twaalf kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Kassie Kasselman op sy verjaardag by die Harvard. Foto verskaf
Jandré vertel ook sy pa se loopbaan het 29 500 vliegure opgelewer.
“Sy totale ure is grootliks op kleiner vliegtuie en dit is merkwaardig. Na raming, teen 200km per uur, is dit vir sy totale ure ongeveer 136 keer om die aarde.”
Om te vlieg loop sterk in die Kasselman-familie. Hy het sy seuns, Jandré en Jean-Pierre en skoonseun Abri opleiding gegee. Asook twee kleinseuns Jean-Jacques en Ulrich. Jean-Pierre was vlieënier by SAL en Abri vlieg tans vir Emirates in Doebai.
