Central SA
’n Geel September vir kankerbewusmaking─── ELSABÉ DE JAGER 08:00 Fri, 15 Sep 2023

Alhoewel kinderkanker relatief skaars is, is die kans op herstel baie goed.
“Kinders is ons toekoms en ons hoop. Deur die regte inligting beskikbaar te stel help ons hopelik om nie net ouers en toesighouers kanker-slim te maak nie, maar ook die kinders self.”
So sê CityMed Daghospitaal in Bloemfontein se bemarkinghoof, Vivienne Pistorius, oor hul fokus op kinderkankerbewusmakingsmaand.
Tussen 800 en 1000 kinders word jaarliks in Suid-Afrika met kanker gediagnoseer. Ten minste die helfte van alle kinders met kanker word nóóit gediagnoseer nie.
Vroeë diagnose speel ’n sleutelrol. Foto: Freepik
Alhoewel dié hospitaal nie ’n kankerhospitaal is nie, ’n kankersaal het óf betrokke is by kankerbehandeling nie, is dit vir hulle steeds belangrik dat ouers én kinders beskerm en ingelig word oor siektes wat voorkom kan word. Klem word ook geplaas op inentings wat ander siektes kan voorkom en gevolglik die risiko vir kanker kan verlaag.
’n Gesonde leefstyl wat reeds in die kinderjare gekweek word, kan voortduur deur die res van sy of haar lewe. Inligting wat vir kinders en tieners relevant is ten opsigte van die belangrikheid van ’n gesonde eetplan, gewigsbeheer, daaglikse oefening, die gevare van alkoholmisbruik en rook, asook te veel blootstelling aan son, word op sosiale media gedeel.
’n Geel lint dui hoop vir kinderkankerlyers aan. Foto: Freepik
Pistorius sê al hul inligting word verkry vanaf Kansa. Alle beriggewing het ook ’n skakelverwysing na die Kansawebwerf waar nog veel méér inligting beskikbaar is. Vroeë diagnose en verwysing bly van die sleutelfaktore vir die oorlewing van kinderkanker. En hoop is daar wel. Alhoewel kinderkanker relatief skaars is, is die kans op herstel baie goed.
OFM Nuus/Elsabé de Jager