Central SA
SA regering werk teen AU-beginsels oor afwenteling van mag─── 15:48 Fri, 15 Sep 2023
“Sogenaamde ingrypings by munisipaliteite deur die nasionale en provinsiale regerings was ten beste ondoeltreffend.”
Die ANC-regering se beleidsrigtings bots lynreg met die gestelde beginsels en waardes van die Afrika-handves oor die waardes en beginsels van desentralisering, plaaslike regering- en ontwikkeling.
Die Afrika-Unie het die handves in 2014 aanvaar. Dit verbind AU-lidlande onder meer daartoe om die desentralisering van magte na streeks- en plaaslike owerhede as ’n sentrale element in hul regeringsbeleid te plaas om ekonomiese groei en beter dienslewering te bewerkstellig.
Die implementering van doeltreffende maatreëls om korrupsie hok te slaan en -maatreëls om natuurlike hulpbronne soos water te beskerm, word ook beklemtoon.

VF Plus-LP Michal Groenewald: Foto verskaf
Een van die sentrale beginsels is om meganismes in te stel om verantwoordbare plaaslike regerings daar te stel en behoorlike aanspreeklikheid te verseker.
Maar die VF Plus het Vrydag (15/9) tydens ’n parlementsitting uitgewys Suid-Afrika se regeringsbeleid bots sedert die aanvaarding van die handves nege jaar gelede lynreg daarmee.
Die gevolge hiervan kan duidelik gesien word in die stand van Suid-Afrikaanse munisipaliteite. Verál sedert 2014 het munisipale dienslewering met rasse skrede agteruitgegaan. Die stroping van munisipale hulpbronne en algemene korrupsie deur veral ANC-faksies het hand oor hand toegeneem.
‘Van plaaslike ekonomiese ontwikkeling is bykans geen sprake meer nie’
Weens wanbestuur in munisipaliteite het kritieke infrastruktuur tot só ’n mate verval dat die grootskaalse besoedeling van veral die land se waterbronne omvangryk geraak het. Van plaaslike ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika is daar bykans geen sprake meer nie.
“Sogenaamde ingrypings by munisipaliteite deur die nasionale en provinsiale regerings was ten beste ondoeltreffend,” sê VF Plus-LP Michal Groenewald. “Die sogenaamde ‘ingrypings’ het meesal net daartoe gelei dat nuwe korrupsiekanale deur die aangestelde ‘administrateurs’, beter bekend as ANC-kaders, ingestel is.”
Die ANC-regering se distriksontwikkelingsmodel (DDM), wat sedert 2019 gepropageer word, is reeds bewys as net nog ’n stel leë regerings beloftes om kiesers in die aanloop tot die 2024-verkiesing te mislei.
‘Die ANC is blykbaar blind vir die rampspoedige gevolge van sy beleidsrigtings’
Behalwe dat die ANC-kultuur van korrupsie, selfverryking en kaderontplooiing onomkeerbaar in die party se weefsel ingewortel is, is die ANC blykbaar ook blind vir die rampspoedige gevolge van sy onwerkbare, sosialistiese beleidsrigtings.
“ANC-beleid is suiwer geskoei op die sentralisering van mag en die sogenaamde ‘herverdeling’ van onverdiende welvaart,” sê Groenewald. Die gevolge hiervan is daar vir die hele wêreld om te sien.
“Die VF Plus sal met die aanvang van ’n koalisieregering in 2024 verseker dat ’n duidelike beleid vir die desentralisering van magte en ’n kragtige bemagtigingsmodel vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling in werking gestel word,” sê Groenewald.
“Dit is ’n onontbeerlike element van gesonde regeringsbeleid om volhoubare ekonomiese groei en gepaardgaande werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners te verseker.”
