On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Al stappend vir sy broer se rugbytoer – VIDEO'S

───   KAREN VAN DER BERG 08:58 Mon, 18 Sep 2023

Al stappend vir sy broer se rugbytoer – VIDEO'S | News Article
Divan Kruger het met ’n staptog geld vir sy broer se rugbytoer ingesamel. Foto verskaf

“Die dae langs die pad was interessant. ’n Mens sien 'n klomp goed raak, veral diertjies. Daar is ook heelwat interaksie van mense wat verby ry en geselsies aanknoop.”

Die gesegde “omdat ek ’n broer het, sal ek nooit in my lewe alleen wees nie”, het opnuut betekenis gekry toe ’n broer drie dae aaneen aan die sowat 200 km van Aliwal-Noord na Bloemfontein gestap het om geld vir sy kleinboet se rugbytoer in te samel.

Divan Kruger (21) het self besluit om dié staptog aan te pak om vir sy broer, Lenro (15), geld in te samel. Hy het alles gereël en mense gekry om hom te borg. 

Hy het Sondagmiddag (17/9) in die Vrystaatse hoofstad aangekom nadat hy vroeg Vrydagoggend uit Aliwal-Noord begin stap het. Die gesin woon op dié dorp.

“Ek hou nog altyd baie van stap en het verskeie staproetes al voltooi. Ek wou ’n nuwe uitdaging aan myself stel.”

Lenro, ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Bultfontein, is gekies vir die o.16-VKB-span, wat in Desember in Frankryk toer. Die koste beloop R50 000 per speler.

Divan het Saterdag tot op Reddersburg gestap. Foto verskaf

Divan sê hy wou graag sy broer help en het met dié plan vorendag gekom. “Almal het maar gekyk waar hulle iets kon doen. Ek het baie hulp gekry van ons tuisdorp, Aliwal-Noord.”

Dit was vir hom ’n voorreg om dit te doen. “Die dae langs die pad was interessant. ’n Mens sien 'n klomp goed raak, veral diertjies. Daar is ook heelwat interaksie van mense wat verbyry en geselsies aanknoop.


Divan het Saterdag (16/9) tot in Reddersburg gestap en Sondag in Bloemfontein aangekom.

Die seuns se ma, Karin Kruger, sê Divan het met die idee vorendag gekom. “Ons as ouers kan nie meer trots wees as wat ons is nie. Dit is absoluut fantasties dat hy dit vir sy broer doen en vir ons. Ons waardeer dit ontsettend baie.”

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.