Central SA
Bloemfonteinse kore palm medaljes in─── ELSABÉ DE JAGER 13:09 Mon, 18 Sep 2023
Vir Werner Stander dien elke geleentheid vir deelname as aansporing vir sy koorlede om hul mikpunte net nog hoër te skuif.
Die onlangse deelname van vier plaaslike kore aan die Cape Town Eisteddfod het Bloemfonteiners opnuut trots gemaak met die uitsonderlike prestasies wat hulle behaal het.
Werner Stander, afrigter van Laerskool Oranje Meisies se junior sowel as senior koor, die University of the Free State (UFS) Campus Choir, en ook die Bloemfontein Children’s Choir, sê hy is dankbaar dat hul harde werk op hierdie wyse beloon is. Al die kore het virtueel aan die eisteddfod deelgeneem.

Hulle is die wenners van die junior ope-afdeling. Foto: Facebook
Oranje se junior koor is as die beste junior laerskoolkoor aangewys. Hulle ontvang die Elsie Jennings-medalje. Die Lorie Philomel-medalje word aan die senior koor van Oranje toegeken. Dié dogters stap ook weg met die louere as beste senior laerskoolkoor weg.
Stander is opgewonde oor die toekoms wat wag op die UFS Campus Choir. Dié koor het tussen 85% en 90% behaal en ontvang daarvoor ’n diploma. Op 27 September bied die koor ’n galakonsert aan in die Odeion Ouditorium op die Bloemfontein-kampus aan.

Die singende Eende van Oranje. Foto: Facebook
Ook die Bloemfontein Children’s Choir het gesorg vir groot opwinding. As wenners van die junior afdeling in die oop kategorie van die Cape Town Eisteddfod ontvang hulle die CT Male Voice- asook die Merwyn Williams-medalje.
Vir Stander dien elke geleentheid vir deelname as aansporing vir sy koorlede om hul mikpunte net nóg hoër te stel.
OFM Nuus/Elsabé de Jager
