Central SA
SOE bevestig VF Plus se klag oor Vrystaatse padprojek─── LUCKY NKUYANE 14:58 Mon, 18 Sep 2023
Die roete is besig om te verval en het sedertdien versleg, terwyl miljoene rande betaal is aan ’n kontrakteur, wat nog nie die pad klaargemaak het nie.
Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het die Vrystaatse VF Plus se klag oor die R76-padinstandhoudingsprojek van miljoene rande bevestig. Die eenheid sê die bewering is op Vrydag (15/09) ontvang en dit sal deur die interne prosesse gaan.
Armand Cloete, die VF Plus se koukusleier in die provinsiale wetgewer, het die provinsiale Departement van Paaie en Vervoer van vrugtelose uitgawes beskuldig nadat aan die lig gekom het ’n yslike R271 miljoen is bestee aan ’n padprojek wat in 2019 begin het.
In antwoord op vrae in die provinsiale wetgewer het die departement glo bevestig R300 miljoen is vir die projek begroot. Die pad is tussen Kroonstad en Steynsrus en verbind ook provinsies soos Noordwes en KwaZulu-Natal vir landbouhandel.
Hy sê die roete verval en versleg ál verder, terwyl miljoene rande betaal is aan ’n kontrakteur, wat nog nie die pad klaargemaak het nie.
Soos dit nou staan, lyk dit of die pad gedeeltelik in stand gehou is met 'n verslegtende padoppervlak, terwyl die ander deel 'n grondpad bly. Die projek sou in September 2022 voltooi gewees het, maar die sperdatum is tot Junie 2023 uitgestel en 'n paar maande later moet die konstruksie-instandhouding nog voltooi word.
Die departement moet nog kommentaar lewer.

