Central SA
Bethlehem-aanval: Eienaars verantwoordelik vir hulle pit bulls─── 16:04 Tue, 19 Sep 2023
“Eiendomme moet veilig toegemaak wees om te verseker dat diere nie daaruit kan ontsnap nie.”
Aanvalle deur honde op mense het in die laaste jaar toegeneem. Baie van hierdie aanvalle het ongelukkig tot menslike sterftes gelei, van wie die meeste kinders was, sê Jacques Peacock, woordvoerder van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), na aanleiding van die jongste aanval.
Liege Strapp (64) van Bethlehem het Saterdag meer as twee uur lank teen twee verwoede pit bulls geveg voor hy na veiligheid kon vlug. Hy was op sy werkgewer se plaas toe hy sien die watertenk loop oor.

Oproepe word gedoen om Amerikaanse veghonde heeltemal in Suid-Afrika te verbied. Foto: Pixabay
Toe hy die kragopwekker wou afskakel wat die waterpomp aandryf, het hy die hek oopgemaak, en die honde het hom aan sy hande begin byt. Die honde het hom twee uur lank aangeval nadat die hek oopgegaan het.
Strapp het om sy lewe geveg en onder meer ernstige beserings aan sy nek, bene en arms opgedoen. Hy word in die Mediclinic Hoogland op Bethlehem behandel.

Eienaars moet verantwoordelikheid aanvaar vir hul honde. Foto: Pixabay
Peacock sê eienaars moet in elke opsig verantwoordelikheid vir hulle diere aanvaar. “Eiendomme moet veilig toegemaak wees om te verseker dat diere nie daaruit kan ontsnap nie.”
In onlangse hofuitsprake is beklemtoon dat troeteldiereienaars bewus moet wees en aanspreeklik gehou kan word vir hulle diere se gedrag of optrede. “Die hof beskou eienaars as verantwoordelik vir die gedrag van hulle honde, veral as die honde aggressiewe gedrag toon.”
Hoewel die NDBV ’n beroep op die regering doen vir strenger regulering ten opsigte van die eienaarskap, ondersteun hulle beslis nie oproepe om alle Amerikaanse veghonde te verbied nie, sê Peacock.
‘Die belangrikste probleem in verband met die hondeaanvalle, verantwoordelike eienaarskap’
“Hierdie voorstel is nie prakties, lewensvatbaar of moontlik nie. Dit sal ongetwyfeld ’n gevaarlike onwettige mark skep waar die welsyn van hierdie dier sterk benadeel sal word. Soos reeds genoem, is die belangrikste probleem in verband met die hondeaanvalle, verantwoordelike eienaarskap.”
Ao. Loraine Earl, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het aan OFM bevestig geen klag oor ’n hondeaanval is by hulle aangemeld nie.
