Central SA
Mooi samewerking vir ’n groener Upington─── 10:39 Wed, 20 Sep 2023
“Bome is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het.”
Tien inheemse boompies pryk by die Schroderstraat-polisiekantoor op Upington danksy mooi samewerking oor politieke grense heen.
Die plaaslike AfriForum-tak het verteenwoordigers van die DA, VF Plus en Rhino Security genooi om op Saterdag (13/9) aan die boomplanting met die oog op Boomplantmaand deel te neem. Hulle het nege witkareebome op die sypaadjie voor die polisiekantoor geplant en ’n kokerboom agter die Kameelmonument, ’n boom enig in sy soort in die Kalahari.

Agter die Kameelmonument is ’n kokerboom geplant, so eie aan die Kalahari. Foto verskaf
Die raadslede en die plaaslike Departement van Waterwese het die bome geskenk, terwyl die AfriForum-tak kunsmis en toerusting verskaf het.
“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te woon nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

Die projek is gekenmerk deur mooi samewerking. Foto verskaf
“Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsels of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe.” Boomplantmaand is die ideale geleentheid om ’n blywende verskil in die gemeenskap te maak.
“Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer,” voeg hy by, “en die AfriForum-tak op Upington onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het.”

Nege witkarees is voor die polisiekantoor in Schroderstraat, Upington, geplant. Foto verskaf
AfriForum se Upington-tak bedank rdll. Erica Strauss (DA) en Hennie Roux (VF Plus) asook Herman Espach van Rhino Security vir ’n suksesvolle boomplantdag by die SAPD-kantoor.
Die tak moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome op hul dorp te plant en deel te wees van ’n groener toekoms.
